Troubeplanning kan ’n vreugde of ’n groot bron van konflik wees… veral as dit jou lewe oorneem. Vind uit of jy moet afskaal.

Troubeplanning is lekker en jy kan uiting gee aan jare se droom en versamel. Maar wat as dit die mense rondom jou heeltemal wegstoot… veral die bruidegom?

Troubeplanning is deel van die hele verloof-trou-reis, maar moenie dit waaroor dit regtig gaan oorskadu nie. Op die ou einde gaan dit oor julle liefde vir mekaar en die saamsmelt van twee families. Dit help dus nie as die beplanning julle verhouding pootjie of familiekonflik veroorsaak nie.

As jy die volgende ervaar, loop jy die gevaar dat troubeplanning besig is om jou lewe oor te neem:

JY PRAAT SOOS ’N WAFFERSE TROUVERSKAFFER
Sweetheart verwys tans nie meer na jou aanstaande nie, maar na die neklyn van die rok wat jy beoog, en jy praat oor absoluut niks anders as trourokke, troudekor, skoene, fotograwe, ensovoorts nie… selfs voor jou vriendin wie se verloofde haar gelos het.
Wenk: Reël afsprake met die gevolg om oor trousake te praat en kuier net rustig met vriende en familie wanneer julle saam is. Alles kan nie oor die troue gaan nie.

NIEMAND VRA JOU MEER OOR DIE TROUBEPLANNING NIE
… want hulle is al genoeg afgejak en verskree as hulle die T-woord naby jou gebruik. Niemand help jou nie en hulle deel nie idees nie… want jy is tevrede met niks.
Wenk: Na die troue gaan jy nog hierdie mense in jou lewe wil hê. Jou troue draai om jou. Nie die hele lewe nie. Onthou dit.

JY ONTPLOF OOR DIE KLEINSTE DINGETJIE
Jy het altyd gestres daaroor om jou werk reg te doen, maar deesdae stres jy – asof dit die einde van die wêreld is – oor lapservette en Tiffany-stoele… en maak vyande soos wat jy aangaan.
Wenk: Jou troue is belangrik, maar dit help nie om ’n maagseer te ontwikkel as gevolg van troubeplanning nie, want dan gaan jy dit nie geniet nie. Moet ook nie fokus verloor van wat regtig belangrik is nie. Waarmee gaan jy immers vir jou rok betaal as jy nie werk het nie.

JY SKEEP MENSE AF
Jou selfoon is baie bedrywig – maar nie met boodskappe van vriende af nie. Net boodskappe van verskaffers wat alles bevestig… want jy het weke laas met die belangrike mense in jou lewe gepraat.
Wenk: Moenie dat iets wat veronderstel is om mooi te wees skade aan jarelange verhoudings aanrig nie.

JY SLAAP NIE
Jou kop is so besig met troubeplanning dat jy nie afskakel nie en daarom ook nie kan slaap nie.
Wenk: As jy nie slaap nie, sal jy nie net nors en pofferig wees op jou troudag nie, jou gesondheid sal ook ’n knou kry en jou vel kan selfs uitslaan. Maak seker dat jy genoeg slaap.

JY VERGEET HEELTEMAL WAAROOR ALLES GAAN
JY is meer opgewonde oor die dag as oor die toekoms en jy maak nie ’n geheim daarvan nie. Julle spandeer min tyd saam en maak mekaar eintlik net ongelukkig.
Wenk: Trou het nog nooit oor troubeplanning gegaan nie. Dit gaan oor die twee mense wat vir die toekoms saam aanpak. Moenie fokus verloor nie.

Troubeplanning is ’n noodsaaklike deel van enige groot dag, maar dit moet pret wees en nie jou lewe oorvat nie.

All Women’s Talk

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA