Troudekor is iets waaroor jy baie goed moet nadink, want dit kan of jou dag komplementeer of die rede wees hoekom gaste vir jare agter hulle hande gaan skinder.

Daar is baie idees en wenke beskikbaar vir troudekor en ander trouverwante items, maar wat as jy van soveel verskillende goed hou, dat niks op die ou einde by mekaar pas nie? Een klein dingetjie, het die mag om jou hele dag van balans af te gooi, so hier is ’n paar dinge wat jy liefs moet vermy.

MOENIE BLOMME OP VERSKILLENDE PLEKKE GEBRUIK NIE
Blomme kan nogal duur troudekor wees, maar moenie probeer spaar deur een rangskikking of te veel verskillende plekke te probeer gebruik nie. Jou strooimeisies se handruikers sal byvoorbeeld ook nie mooi op die troukoek lyk nie en jy kan nie jou handruiker as die hooftafel se fokuspunt gebruik nie.

MOENIE WIT OF DRYWENDE KERSE GEBRUIK NIE
Kerse kan baie mooi by jou troudekor inskakel, maar kies eerder kleure wat jou troudekor komplementeer en vermy wit. Wit vertoon dikwels hard en skerp en sal dan ’n seeroog eerder as ’n bate wees. ’n Glasbak, met drywende kerse is ook ’n groot NEE.

KIES KLEURE WAT PAS
Jou troudekor se kleure moet bymekaar pas. Dit help nie jy kies lapservette (beslis ’n moet vir troues) wat in ’n ander skakering pienk is as die res van die items nie. Jou dekor moet soomloos inskakel en nie uitstaan vir die verkeerde redes nie.

LOS BROODROLLETJIES VIR DIE KOSTAFEL
Nee dit is nie ’n restaurant nie, so moenie broodrolletjies op jou tafels dek nie. Harde, onsmaaklike brood wat lank gestaan het, is nie lekker nie en dit lyk ook nie mooi op foto’s nie. As brood deel is van jou spyskaart, plaas dit op die kostafel of laat kelners dit bedien wanneer dit tyd is. Dit kan beslis nie as troudekor gebruik word nie.

LAPSERVETTE LYK MOOI OP OF LANGS DIE BORDE
Vergeet van waaiers en swane en laat jou servette elegant vertoon deur dit in of langs die bord te plaas. Dit kan ’n bate wees vir jou troudekor as dit nie die dieretuin verteenwoordig nie.

STOELE MAAK SAAK
Dit is deesdae baie in die mode om mooi stoele by jou troue te hê, selfs die soort wat nie heeltemal dieselfde is nie, maar mekaar tog komplementeer. As jou venue egter net gewone saal- of plastiekstoele het, moet jy beslis stoeloortreksels gebruik. Niks doen soveel afbreuk aan jou troudekor soos die verkeerde stoele nie.

Troudekor maak of breek jou groot dag, so hou dit eenvoudig en kies slim!

Foto: Want That Wedding

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA