’n Troue met ’n elegante atmosfeer was presies waarmee Francois en San-Mari hulle liefde wou vier. Lees verder oor hulle mooiste dag en om die res van hul foto’s te sien.

’n Troue was moontlik die laaste ding waaraan Francois en San-Mari gedink het toe hulle deur middel van die internet ontmoet het, want albei van hulle het op daardie stadium al lank gewag vir die perfekte een. Hulle het egter gou na hulle eerste ontmoeting besef dat hulle mooi by mekaar pas en hulle verhouding het gelei tot ’n pragtige liefdesfees. Ons het meer gaan uitvind oor die beplanning van hulle troue.

HOE HET FRANCOIS DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Ons het by my ouers in Vereeniging gaan kuier. Ek het op daardie stadium ook nog musieklesse gegee en terwyl ek besig was met my fluitstudente, het Francois ouers gevra. Na my les, het hy gesê dat hy lus was om uit te gaan vir ’n drankie, omdat ons nog nie kans gehad het om sy verjaardag te vier nie. Ons is toe Kariba Ranch toe waar hy dadelik sjampanje bestel het. Voor ek kon besef wat aangaan, was hy op sy knie en het hy my gevra om te trou. Na die tyd het ons die verlowing saam met vriende gevier. Dit was ’n wonderlike dag.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JULLE TROUE?
“Ek was nog altyd mal oor vlootblou en het lank gedroom van ’n troue in vlootblou, goud en wit. Dit is elegant en gesofistikeer en presies die gevoel wat ek wou oorbring op ons troudag.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP VIR JULLE TROUE EN HOEKOM?
“Ons wou ’n gelukkige, ontspanne en mooi atmosfeer skep. Ons het die dag saam met spesiale vriende en familie spandeer en wou graag hê dat hulle ons liefde moes voel en elke detail geniet en waardeer.”

BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Dit was die beste dag ooit! Ek was kalm en het daarop gefokus om alles in te neem, van die begin tot die einde. Ek en Francois het die oggend albei iets geneem vir die senuwees en dit het regtig baie van die stres verlig en die emosies in toom gehou.”

HET JY RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Moenie oor enigiets stres op die dag nie. Geniet elke oomblik, want die dag is so spesiaal. Onthou ook waaroor dit regtig gaan.”

WAS DAAR ENIGE SELFDOEN-PROJEKTE OP JULLE TROUE?
“Ons dankiegeskenke was tuisgemaakte fudge wat my ma gemaak het. Dit was heerlik en het mooi by die dekor ingeskakel.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering (Celicia Snyman), spyseniering, blomme, dekor en verhurings: Tres Jolie Wedding and Function Venue
Wyn: Unlabelled Wines
Skryfbehoeftes: Creative Heroes
Kaastroukoek: Delicatessen Köstlich met versiering deur bruid se ma
Foto’s: Aline Photography
Video: Carla van Wijk van ICP Productions
Musiek: Entertainment Soundworx
Agtergrondmusiek: 2 is a Duo
Elektroniese fotohokkie: Snap-Ease Boothtography
Trourok: Bridal Manor Pretoria
Hare: Tereza Liebetrau van Skêr Beauty Salon in Vereeniging
Grimering en wimperverlengings: Nevaeh Beauty Studio
Ringe: Piccolo Fine Designer Jewellery
Bruidegom se uitrusting: Smart Guy
Troukar: Gawie Krugel

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA