As jy nog altyd gedroom het oor ’n troue in die woestyn, moet jy beslis verder lees. An-Sophie Jonker gesels met Stephanie Klosta oor dié pragtige gestileerde sessie met Namibië as inspirasie.

“Bring vir my ʼn Namibsroos, bring haar na my toe,” hierdie woorde van Theuns Jordaan se liedjie Namibsroos kom dadelik by ʼn mens op as ʼn mens na die gestileerde fotosessie van Stephanie Klosta kyk, wat ideaal is vir ’n troue in die woestyn.

Ons het gaan uitvind wat Stephanie Klosta se idee was om ʼn gestileerde fotosessie in die droë, warm Namibiese son te doen.

DIE FOTOGRAAF

Stephanie Klosta, van Stephanie Klosta Photography, beskryf haarself as ʼn Johannesburgse en Namibiese fotograaf. Haar fotografiestyl is skoon, emosioneel en romanties en is die perfekte keuse vir enige troue. Sy is met ʼn Duitser getrou en het ʼn vierjarige seuntjie.

DIE MODEL

Beeldskone Mejuffrou Namibië 2019, Yana Haenisch, was die “Namibsroos” vir hierdie gestileerde fotosessie. Haar veldtog as Mej. Namibië-finalis het gegaan oor werkskepping, veral vir die Namibiese jeug en om plaaslike besighede te ondersteun.

DIE OMGEWING

Stephanie se idee vir die gestilleerde fotosessie was om buite in die bosveld te wees, in die hartjie van Namibië, Windhoek. “Selfs al is Windhoek 450 km van die Namibwoestyn, voel ʼn mens nogsteeds die droogte en intense hitte van die Afrika-son. Ek wou graag ʼn sagte, romantiese Safari-gevoel skep, deur die ongerepte skoonheid van die bos rondom ons te inkorporeer vir ’n treffende effek, wat veral mooi kan wees vir ’n troue.”

Haar liefde vir Windhoek is duidelik en sy deel graag die stad se interessante geskiedenis: “Geleë in ʼn kom, omring deur die Khomas Hoogland en Auasberge, vind jy Windhoek, Namibië se bekende hoofstad. Die Stad is tans gasheer vir ongeveer 200 000 mense en is ʼn vooruitstrewende kulturele en historiese middelpunt, wat teen ʼn eksponensiële koers groei.

Die Metropool is gekenmerk deur kenmerkende Duitse styl geboue, en spog met ʼn aantal besienswaardighede van sy ietwat onstuimige en gevarieerde verlede. Kulturele en historiese entoesiaste moet ʼn besoek aan die Christuskirche (Christus kerk) prioritiseer.

DIE TROUROK

Yana het sprankelend rondgedans in ʼn Marlize Meeding-trourok vir die fotosessie. Marlize se styl en ontwerp komplementeer die Namibiese skoonheid en die atmosfeer van die fotosessie baie goed. Haar rokke is beslis ’n goeie belegging vir enige troue.

Hierdie fotosessie van Stephanie Klosta, met model Yana Haenisch, skep ’n mooi prentjie van ʼn beeldskone bruid, wat in die droë warm Afrika-son dans en troue hou. Jy voel sommer die droë hitte en hoor die woorde: “Bring vir my ʼn Namibsroos, bring haar na my toe.”

DIENSVERSKAFFERS:
Plek: River Crossing Lodge
Skryfbehoeftes: Chrystalace
Foto’s: Stephanie Klosta Photography
Trourok: Marlize Meeding
Model, hare en grimering: Yana Haenisch

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA