Andrea en Ernst se troue het oorgeloop van liefde. Harte en rose was te sien in elke detail en het beslis atmosfeer van intimiteit geskep.
Koraal en vlootblou het ʼn perfekte kleurpaartjie gemaak en die rustieke venue, met sy sement- en ysterafwerking, het ʼn aardse warm gevoel verleen aan die okkasie. Aandag aan persoonlike items, soos op die kouse van die bruidegom en sy gevolg, sy mansjetknope en sakdoek asook die strooimeisies se “strooinooi”-borsspeldjies getuig van die liefde wat die twee vir mekaar, hulle vriende en familie het. Hulle vertel ons meer daaroor.
SEËN EN HERINNERING
ʼn Pragtige gebaar wat die twee tydens die seremonie gehad het, was om hulle naastes in die kerk te laat opstaan en ʼn sirkel om hulle te laat vorm. “Met die seën gebed het hulle aan ons kom raak en was getuies tot ons wonderlike belofte voor God.” Hulle het ook ʼn kers aangesteek vir Andrea se pa wat oorlede is en nie daar kon wees nie.
’N PERFEKTE DAG
Andrea beskryf hulle troudag so: “Dit was ʼn droom. Ek is iemand wat vreeslik gou gespanne raak en ek het geen spanning ervaar nie. Ek het vertroue gehad in God dat ons dag perfek sou wees, en dit was. Alles was sprokiesmooi. Ons het dit net geniet en ons liefde vir mekaar met ander gedeel. Ons het niks struikelblokke gehad nie, ek was net bekommerd my rok pas my nie!”
SPANWERK
“Ons het meestal alles self gedoen en het saam oor die blomme en al die goedjies besluit, en dan ons verskaffers gekry om dit te doen. Ek en my man was stap-vir-stap saam betrokke. Ek het die tafelplasings gemaak en voel dis net lekker om jou stempel af te druk en betrokke te wees. Op die dag was my strooimeisies en my familie wonderlik! Elke liewe diens wat gelewer is, was uitstekend. Ek beveel elkeen van my verskaffers aan.”
RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE
- Begroting gewys: moenie te veel geld spandeer op ditjies en datjies nie. Mense sien dit, maar hulle onthou dit nie.
- Kry ʼn lekker venue met lekker kos, ʼn goeie foto-en videograaf en dis verewig perfek vasgevang.
- Vertrou jouself want jy weet wat jy wil hê en moenie bang wees om jou dag ekstra spesiaal te wil maak nie, die dag gaan oor julle en julle belofte voor God.
- As jy kan, moenie te lank verloof wees nie, dit raak bietjie erg, want mens kan nie wag nie!
DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, drankies, spyseniering, musiek en dekor: Die Akker
Skryfbehoeftes: Liqerish
Troukoek: Erna Labuschagne
Fotograaf: Marinell Photography
Videograaf: Andre Sonnekus
Trourok: Great Weddings
Hare: Maritza Maritz van House of Hair Design
Grimering: Lucille Roos van Bella Roos Beauty Salon
Bruidegom se uitrusting: Solomons en onderbaadjie was Eurosuit
Ander: Dankie-geskenkies: Kamalielie
Koekversiering: Rosette
Manskouse: Met Liefde Kreatief
Kousband: Creations de Splendeur
Strooimeisiegeskenkies: Net ʼn Kameel
Mans heupflesse: Trou Klokkies
Monogram-hemde: Say It Creative
Artikel: Yolande van Deventer