’n Troue was die uiteinde van ’n liefdesverhaal wat al op die skoolbanke begin het. Lees verder om meer uit te vind oor Luan en Marné se mooiste dag.
Luan en Marné het mekaar op skool in Nelspruit ontmoet. Hy was van die area en sy in die koshuis. Omdat hulle die eerste twee jaar van hoërskool in dieselfde klas was, het hulle sommer gou vriende geword. Verskillende klasse en vriende het egter hulle paadjies laat skei, maar hulle het mekaar weer raakgeloop by die Innibos Kunstefees… en hulle verhouding het vlamgevat. Hulle deel hulle troue met ons.
HOE HET LUAN DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“Ek is fotograaf, so toe twee van ons vriende by my fotosessies bespreek, het ek nie onraad vermoed nie. Hulle het die plek, waar die fotosessie moes plaasvind (African Pride Irene Country Lodge), bespreek en gereël. Ons het skaars met die sessie begin, toe ek omdraai en Luan agter my op sy knie sien staan. Hy het my gevra om te trou en my antwoord was ja. Dit was ’n groot verrassing. Nadat hy my gevra het, het ons dit met sjampanje gevier en ook ’n romantiese ete by die lodge geniet en die res van die naweek daar gebly. Dit was baie spesiaal.”
WAT WAS DIE KLEURE EN TEMA VAN JULLE TROUE?
“My gunstelingkleur is blou en dit sou daarom altyd deel van my troukleure gewees het. Ek het opgetel dat vlootblou nogal ’n tendens gaan wees aan die einde van 2016, omdat baie van my bruide dit gebruik het. Ons het toe besluit om blou en wit delftpotte as dekor te gebrui. Omdat blou en wit nogal geneig is om ’n koue gevoel te skep, het ons toe ligpienk en goud ingebring vir warmte. Ons het besluit op sequins as konfetti en dit het pragtig gelyk op die foto’s. Die blomme was skakerings van wit en pienk en ’n mengsel van tulpe, orgideë, peonies, rose en Michaelma-madeliefies. Ons wou spesiale, maar nuttige, dankiegeskenke gee en het besluit op koffiekoppies. Die gaste was mal daaroor en dit het mooi by die dekor gepas.”
BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Ons het op ’n stukkie grond getrou, waar ek grootgeword het in die Laeveld. Die troue was reg langs die Krokodilrivier en die onthaal het uitgekyk op die Nasionale Krugerwildtuin. Die troudiens was soos uit ’n sprokiesverhaal, so vreedsaam. Dis gehou onder ’n ry bome, wat ’n pragtige groen dak van blare bo ons en die gaste geskep het. Ek en my gevolg het ingeloop op ’n natuurlike blaartapyt. Die beste oomblik, was toe ek inloop en ek in Luan se oë kon sien hoe lief hy vir my is.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE EERSTE DANS OP JULLE TROUE?
“Ons het ’n gekoördineerde dansroetine gehad en dit was baie pret. Dit het bestaan uit drie verskillende liedjies, wat in mekaar gevloei het. Die gaste het dit baie geniet.”
HET JY ENIGE RAAD VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“Probeer om rustig te wees en die reëlings twee dae voor jou troue af te handel om onnodige spanning te vermy, want jou troudag is emosioneel. Weet ook dat alles nie altyd volgens plan verloop nie. As jy dit voor jou troue aanvaar, sal dit jou nie op die dag so ontstel nie. Besluit vooraf dat dinge wat skeefloop nie jou dag gaan bederf nie.”
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Roosmaryn Farm
Koördinering: Vanilla Pod Design
Spyseniering: M&E Catering/Spyseniers
Blomme: LUSH Signature Floral Styling
Dekor: Decore-D-Zign
Verhurings: Doughshiring
Skryfbehoeftes: Chrystalace Stationary
Troukoek: A Piece of Cake
Fotograaf: Rensche Mari Photography
Video: Mighty Fine
Musiek en vermaak: Bad Peter
Trourok: Oksana Mukha gekoop by Bridal Room
Hare: Paintbrush Beauty
Grimering: The Refinery Hair & Makeup
Bruidegom se uitrusting: Trenery-pak van Woolworths