troufotos
Troufoto’s is al wat jy oorhou van jou mooiste dag, daarom moet dit perfek wees. Hier is raad wat jy kan gebruik om te help om die beste eindresultaat te verseker.

Troufoto’s is die herinneringe wat jy oorhou van jou mooiste dag en dit moet net so mooi wees soos die geleentheid. Maar wat kan jy doen – buiten daarvoor om die beste fotograaf vir jou begroting te kies – om seker te maak dat jy die beste foto’s kry? Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou.

WAAR GAAN JOU TROUFOTO’S GENEEM WORD?
Jy het op die venue besluit, maar het jy mooi gekyk wat die fotogeleenthede is? Maak ’n punt daarvan om jou venue deeglik te ondersoek wanneer jy weer daarheen gaan en hou die dinge in gedagte wat jou foto’s kan beïnvloed – soos wanneer die son sak en aan watter kant. Kies vooraf ’n paar mooi plekke wat ’n goeie agtergrond sal skep vir joy troufoto’s en e-pos vir jou fotograaf jou idees (as julle nie saam by die venue was nie). Besluit ook watter bykomstighede mooi kan werk of nodig sal wees op die dag en vra jou strooimeisie om dit byderhand te hou. Deur jou huiswerk voor die tyd te doen, sal ook tyd spaar op die dag en geleenthede bied vir ekstra foto’s wat mooi kan wees.

BESLUIT WATTER TROUFOTO’S GENEEM MOET WORD
Buiten vir die bruid, die bruidspaar, die gevolg en die dekor, is daar ook ander spesiale foto’s wat paartjies graag op die dag wil hê. Maak ’n lys van wie saam met julle afgeneem moet word en gee dit vooraf vir die fotograaf. Maak seker dat jy al jou hartsmense – ouers, familie en beste vriende – insluit en maak die beste van die geleentheid. Maak ook seker dat jy al die formaliteite lys wat ingesluit moet word.

KRY IEMAND OM KONTROLE TE HOU
Die fotograaf en bruidspaar raak dikwels ingetrek by die gebeure op die dag, en dan gaan sekere dinge vergete waaroor julle na die tyd spyt is. Stel dus iemand aan om seker te maak dat al die nodige troufoto’s op jou lysie geneem word en ook om seker te maak dat almal wat moet foto’s neem by die fotograaf uitkom op die regte tyd. Dit sal help dat niks uitgelaat of vergeet word nie.

WEES DIE BESTE MODEL WAT JY KAN
Almal is nie modelle nie en dis oukei, want natuurlike troufoto’s en oomblikke is gewoonlik die mooiste. Hier is ’n paar wenke:
* Wees op jou gemak
* Sit regop met skouers terug
* Moenie te veel dink of pose nie – just go with the flow
* Geniet dit
* Moenie bang wees om te probeer wat die fotograaf voorstel nie

Verlowingsfotosessies kan ook goeie oefening wees vir jou troufoto’s en jou die geleentheid gee om die fotograaf beter te leerken. Deur net ’n paar idees en dinge vooraf in plek te sit, kan jy die mooiste herinneringe van jou troudag hê.

Foto: Parisi

KLIEK ONDER VIR ’N VENUE WAT DIE PERFEKTE AGTERGROND BIED VIR TROUFOTO’S

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA