Is jy trougereed of bloot nog te jonk om oor so ’n groot stap te besluit? An-Sophie Lourens ondersoek hierdie belangrike saak.

Party mense sal vir jou sê gaan sien eers die wêreld, daar is nog baie tyd. Ander mense dink weer nee wat, hulle was in hulle vroeë twintigs en kyk sy en oubaas is na 50 jaar nog net so gelukkig soos op hulle troudag. So is daar dan iets soos te jonk trou en is jy trougereed op daardie stadium van jou lewe?

So ’n paar weke terug hoor ek toevallig hoe ’n een-en-twintigjarige vir haar vriendin, oor die foon, iets oor haar komende troue vertel. Van die anderkant af, val ’n byna vreemdeling haar aan en vra of sy dan al op haar jong ouderdom verloof is! Sy vra haar so ewe of sy dan nie vasgevang voel nie? Die (verloofde) meisie het haar net een kyk gegee en gesê: “Dan is jy verseker in die verkeerde verhouding.”

HOE WEET JY OF JY TROUGEREED IS?

  • Vra jouself af hoekom wil jy trou? Is jy bang jy gaan hom verloor? Word al jou vriendinne verloof en jy voel uit? Wil jy ’n lewenslange belofte gaan aflê dat maak nie saak watter draaie die lewe met jou maak nie, jy sal getrou bly aan daardie belofte? Jou antwoord sal vinnig vir jou wys of jy werklik trougereed is.
  • Almal se situasies verskil en dit speel ’n groot rol in of hulle trougereed is. Neem jou omstandighede in ag. Byvoorbeeld, swot of werk jy al? As jy klaar geswot het, waar wil jy gaan werk? Besluit wat is jou doelwitte en drome vir jou toekoms en hoe dit gaan inpas by jou huweliksplanne.
  • Wees verseker die man is jou sielsgenoot, jou lewenslange pêl en jou hart se punt. Jy moet weet, maak nie saak wie anders oor jou pad gaan kom nie, dit is die een waarby jy vir altyd gaan staan. Maak nie saak wat ander mense sê of dink nie, dit gaan oor jou en jou persoon, en die belofte wat julle aanmekaar aflê.
  • Baklei en stry genoeg met mekaar voor julle knoop deurhaak om te verseker dat julle trougereed is. Praat en sorteer rusies uit en kry mekaar in die middel. Julle gaan nog hier en daar ’n woordewisseling hê as julle getroud is, maar wees seker dat julle weer gaan vrede maak. Ervaar hoe jou aanstaande met jou baklei. Is dit respekvol, met deurnis en ’n beheerde humeur?
  • Onthou, dit is waar dat jong mense vinninger skei as ouer mense. Volgens The Guardian dui statistieke aan dat die hoogste syfers van skeisake by vrouens tussen die ouderdom van 25-29 voorkom en by mans van die ouderdom 30-34 (Edemariam, 2014). ’n Mens kan dae lank debateer oor redes hiervoor. Praat dalk met jongmense wat deur ’n egskeiding is en vind uit hoekom dit nie gewerk het nie. So kan jy agterkom of jy al trougereed is en of jy eers nog ’n paar struikelblokke uit die pad moet vee.
  • Wees eerlik met jouself oor waar julle verhouding nog geskaaf moet word en sorteer dit eers uit. Praat met jou aanstaande oor alles wat jou pla, voor jy voor die kansel gaan staan, want trou gaan nie probleme wat reeds daar is reg maak nie.

As jy dalk neerkyk op mense wat te jonk trou, self jonk trou, of al voel jy, jy gaan nooit tot by trou kom nie. Almal se tyd sal kom, waneer dit vir hulle bestem is. Maak jy liewer net seker dat jy trougereed is en kans sien vir daardie stap in ’n lewenslange ooreenkoms.

Foto: Metro

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA