Troukoek is nie noodwendig iets wat almal meer het nie, maar dit kan baie oulik en spesiaal wees. An-Sophie Lourens het gaan loer watter versierings beskikbaar is.

Die evolusie van troues stop nie net by die skuif van die kerksaal af na ʼn luukse trou-venue toe nie. O nee, selfs die plastiekmannetjies bo-op die troukoek is iets van die verlede.

Seker nie heeltemal iets van die verlede nie, maar die troukoek-toppers het definitief verander of meer modern geword. Daar is ook niks verkeerd daarmee nie, ons gaan mos vooruit, alles mag maar mooier en beter word.

Ons het bietjie gaan soek wat deesdae bo-op die troukoek verskyn. As jy nog nie met iets opgekom het nie, vind jy dalk iets baie unieks en spesiaal.

• Gelaserde houtwoorde of -prentjies: Jy kan die growwe hout hou as dit by jou tema pas of dit ʼn ander kleur spreiverf. Daar is die mooiste soorte skrif waarvan jy kan kies om dit ekstra elegant te laat lyk. Daar kan staan Mnr en Mev, “We do” of sommer net mooi sê-goed.

Julle kan selfs mannetjies of mooi harte laat laser. ʼn oulike idee is om twee voëltjies te laat laser. Op een staan “Love” en die ander een “Birds”.

Jy kan sommer iemand vra wat houtwerk doen of dit laat maak by talle diensverskaffers wat dit maak.

• Groot blokke van julle voorletters kan bo-op die koek gepak word of soos wat die lae van die koek agfaan gepak word.
• ʼn Mens kry die mooiste geverfde houtpoppies, en jy kan kies om dit net soos julle te laat lyk! Dit grens baie naby aan die oorspronklike idee van die troukoek-topper, maar het tog sy nuwe unieke stempel.
• As jy ʼn ontspanne, feesviering het, is die idee dalk net vir jou: Vra jou bakker om bo-op die troukoek twee stokkies te sit en dit met klein vlaggies te verbind. Onder die vlaggies kan jy nogsteeds jou mannetjies of letters sit. Dit kan terselfdetyd elegant en prettig lyk.
• Blomme: vars blomme laat ʼn koek sommer net mooi en lekker lyk. Jy kan jou eie simboliek daarvoor gee of dit nou skoonheid of die nuwe begin is. ʼn Pragtige rangskikking van blomme is net so mooi soos enige ander tradisionele koek-topper.
• Nog ʼn unieke idee is twee fotos wat op lang stokkies geplak is. Op die linkerkant se foto maak die bruidegom of hy iemand soen na regs en op die regterkant se foto soen die bruid iemand na links. Druk die stokkies bo-op die troukoek in. Op die einde lyk dit of die bruidspaar mekaar soen op ʼn foto. Jy kan selfs net een mooi foto van julle op sit.
• ʼn Mannetjie-legkaartstuk en ʼn vroutjie-legkaartstuk wat in mekaar pas. Jy kan dit maklik self maak. Vat ʼn lekker dik en stewige karton. Trek twee vierkante met die gedeeltes wat in mekaar kan pas. Verf een swart met ʼn strikdassie en die ander een wit met ʼn mooi lint. Op die koek druk die legkaartstukke in sodat dit inmekaar pas.
• Buig dik draad om julle voorletters en ʼn hartjie te vorm. Sit dan ʼn letter, die hartjie en die ander letter bo-op die troukoek. As jy iemand ken wat sweiswerk doen kan jy aan die agterkant ʼn liefdespyltjie vas sweis om die letters aanmekaar te heg.

Net soos jy dalk nou jou troukoek gaan sny tydens die verwelkomingsdrankies kan jy baie elegant en uniek weg beweeg van die tradisionele versierings op jou troukoek. Dink aan iets spesiaal vir bo-op jou troukoek of gebruik een van die idees hierbo en laat jou troukoek nog meer spesiaal lyk.

Foto: Wedbook

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA