Die troulokaal is die hartklop van jou troue en moet daarom perfek lyk op die dag. Yolanda Wessels het by Black Oystercatcher gaan uitvind hoe om die beste te verseker dat alles mooi en seepglad verloop.

’n Troulokaal kan jou gaste na hul asem laat snak, so moet nooit die atmosfeer onderskat nie. Maak dit ’n onvergeetlike aand vir jouself, jou eggenoot, familie en vriende met dié top tien wenke.

BESLUIT VOORAF WATTER ATMOSFEER JY WIL HÊ
Dis eenvoudig en met dié top tien wenke, saamgestel deur Sandra Human van Black Oystercatcher Wynkelder, Restaurant en Troulokaal – geleë naby Elim in die prentjiemooi Overberg. Sandra verduidelik, “Dit help om vooraf ’n idee te formuleer van watter atmosfeer jy graag wil skep in jou lokaal, sommer nog voordat jy jou troulokaal kies. Sodoende kan jy verseker dat die infrastruktuur wat jy benodig reeds daar is.”

MET DIÉ TIEN WENKE VAN SANDRA KÁN JY NIE VERKEERD GAAN NIE:
1. Laat daar lig wees: Lig is van die uiterste belang omdat dit die atmosfeer skep. Veral vir ’n aandtroue is lig baie belangrik. Die gebruik van kaggels (veral in die winter) werk uitstekend, so ook die gebruik van vuurputte, kerse en lanterns. Dít skep ’n heerlike warm en gesellige atmosfeer om ’n lekker kuier saam met jou gaste te verseker.
2. Glas en kristal: By ’n aandtroue is die gebruik van glas en kristal ideaal en baie stylvol. Dit reflekteer die lig van die kerse en lanterns en skep ’n magiese atmosfeer in jou troulokaal.
3. Vensters, deure en natuurlike lig: Maak seker dat jy natuurlike lig tydens ’n dagtroue op sy beste benut. Let op na vensters en deure en hoe jy dit kan oopmaak. Dit is prakties wanneer ’n troue kan uitvloei van binne na buite gedurende die dag, dus werk groot deure ideaal daarvoor.
4. Plante versag ’n troulokaal: Die gebruik van plante is ’n persoonlike keuse. Die impak wat plante en blomme op ’n vertrek het, kan beslis nie onderskat word nie. Sandra sê: “Plante versag jou troulokaal en hier by Black Oystercatcer, glo ons dat hoe meer plante, hoe beter.”
5. Blommerangskikkings of nie? Dit is tans ’n gewilde tendens om ’n botaniese invloed te gebruik in die troulokaal. Dink eerder aan plante in innoverende potte en houers as aan gewone blommerangskikkings.
6. Watter blomme is in die mode? Indien jy blommerangskikkings verkies, is rose ’n pragtige opsie. Veral pienk rose is tans baie gewild. Plante met groot, oop blomme is ook baie gewild en skep ’n vol atmosfeer.
7. Gee die gevoel van liefde wat groei: Blomknoppe is ook baie gewild om ’n botaniese gevoel te gee.
8. ’n Algemene reël vir rangskikkings: Met ’n blommerangskikking of plant op die tafel, is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit so geplaas moet word dat dit nie die geselskap tussen mense aan tafel bemoeilik nie. Daar is ’n algemene reël waarvolgens jy kan werk: Plaas jou elmboog op die tafel met jou arm regop. Rangskikkings moet verkieslik nie hoër as jou vingers wees nie.
9. Wat van ’n bier- of jenewerproestasie? ’n Groot troulokaal moet verkieslik nie leeg lyk nie, veral as dit ’n klein troue is met net familie en naaste vriende wat genooi is. In so ’n geval help dit om prettige aktiwiteite in te bring om dit voller te laat lyk. Byvoorbeeld ’n tafel waar daar ’n geleentheid is om craftbier of jenewer te proe. Jy kan ook ’n tafel hê waar heerlike koffie of roomys beskikbaar is. Om ’n troulokaal besiger te laat lyk, kan jy ook ’n sitkamerarea opstel, veral vir ouer gaste sal dit ideaal werk as ontspanningsarea.
10. Onthou die musiek in jou troulokaal! Musiek kan heeltemal die atmosfeer verander. Volgens Sandra kan ’n musiekgroep wat optree ook ’n groot lokaal voller laat lyk. Gaste kan ’n vermaaklike optrede deur gewilde groepe soos Bottomless Coffee Band geniet – ’n lekker manier om gaste te vermaak terwyl die bruid en bruidegom foto’s neem.

Sandra stel voor, “Kyk gerus na foto’s van troues wat reeds in die troulokaal gehou is om idees te kry en om te sien wat werk. Jy sal dit gewoonlik op die plek se webblad kan sien. Vier meer inligting oor Black Oystercatcher, besoek gerus hulle webblad.

DIENSVERSKAFFERS:
Blomme en dekor: Annahes Events Decorators
Fotograaf: Kikitography
Troukoek: Nicole Concer, Table Café

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA