trouroksoek
Trouroksoek kan nie net lank vat nie, maar ook vir die bruid baie spanning veroorsaak as sy nie die perfekte een kry nie. Gina van Staden gee raad oor hoe jy, as strooimeisie, die bruid kan ondersteun in haar keuse.

As jy al die program Say yes to the Dress gekyk het, sal jy verstaan hoe belangrik dit is om die bruid te ondersteun as sy jou vra om saam te gaan trouroksoek. Hier is ’n paar wenke om in gedagte te hou:

DIS HAAR TROUROK – NIE JOUNE NIE
Die bruid sal die persone kies wie se opinies sy die meeste vertrou om haar te help trouroksoek. Partymaal verloor die vertroudes sig van die bruid se wense en begin reageer volgens hulle eie wil en smaak. Maar onthou dat jy nie noodwendig van die rok hoef te hou nie. Solank die bruid soos ’n bruid vóél in die rok, en mooi lyk, is dit al wat tel. Jy is net daar om haar te ondersteun.

HOU DIE BRUID SE GESIG DOP
Jy ken haar al goed, so jy sal dadelik volgens haar gesigsuitdrukking kan sien of sy van ’n rok hou of nie. Werk saam met haar opgewondenheid en teleurstelling. Wanneer sy stralend by die aantrekkamer uitstap, wees saam met haar opgewonde en wys al die goeie punte van die rok uit. Wanneer sy uitkom met ’n minder-beïndruk-trek op haar gesig, moet jy haar nie probeer oorreed om die rok te kies net omdat jy daarvan hou nie. Trouroksoek verg baie takt van die mense wat saam met die bruid gaan.

GELDKWESSIES EN TROUROKSOEK
Tensy die bruid jou spesifiek gevra het om haar aan haar begroting te herinner, moet jy nie uitlatings maak oor die pryse van die rokke wat sy aanpas nie.

EERLIKHEID
Hoe gemaak as die bruid van ’n trourok hou, maar jy stem nie saam nie? Vra jouself eers af of jy net so voel omdat jy dink dis lelik, of omdat dit dalk iets is wat jy nie self sou dra nie? Onthou dat sy haar eie smaak het, wat dalk hemelsbreed van joune verskil.
Indien jy nie saamstem nie omdat die trourok dalk onvleiend is, moet jy dit net op ’n sagte manier stel. (Vra byvoorbeeld eerder of sy gemaklik gaan wees met die lae halslyn in plaas daarvan om net reguit te sê dat dit nie by haar pas nie.) Hou ook in gedagte dat die rokke wat bruide aanpas in die winkel slegs ’n voorbeeld is – die uiteindelike rok word volgens haar eie mates gemaak, wat haar beter sal pas.

Jou opinie kan die bruid se ervaring maak of breek wanneer sy trouroksoek, so kyk uit vir haar beswil wanneer sy jou saamvat om haar trourok te gaan uitkies.

Foto: Wedding’s Eve

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA