Troutradisies kan sommige bruide teen die mure uitdryf. Maar wat as jy hierdie tradisies meer modern maak? Yolanda Wessels het raad.

Troues bestaand dikwels uit een string troutradisies wat op mekaar volg, van die rok, troumars, en gevolg, tot die spyskaart, toesprake, kousband en koek. Dit is grotendeels as gevolg van geloof en geskiedenis, maar dit is net so vars om ’n slag weg te breek van dié tradisies of dit te laat hande vat met iets nuut. Wat is dan nou ook lekkerder as om iets nuuts te begin op die aanbreek van ’n splinternuwe hoofstuk in jul lewens?

Een van die oudste troutradisies, is dat die bruid iets oud, iets nuut, iets geleen en iets blou dra op die troue – glo vir goeie geluk. Hier is ’n paar idee om hierdie tradisie op ’n meer moderne manier deel te maak van julle mooiste dag:

IETSIE OUD
Dit simboliseer die bruid se familie, haar geskiedenis en tradisie.
*Gebruik ’n ou Familiebybel en bind die ringe bo-op vas.

*Indien jou ma nog haar trourok het, en jy dit nie dra nie, kan jy ’n stukkie kant daarvan gebruik om rondom die ruiker te bind of selfs êrens in jou rok in te werk. Hierdie is een van die troutradisies wat soomloos by jou troudag kan inskakel as jy slim te werk gaan.

IETSIE NUUT
Dit simboliseer die nuwe lewe wat vir die bruid voorlê.

  • ’n Nuwe parfuum, spesiaal gekies vir dié dag.
  • Jou nuwe voorletters, op ’n sakdoekie of op ’n kledingstuk, kan help om een van jou troutradisies ’n realiteit te maak.
  • As jou aanstaande jou met nuwe juwele bederf het, kan dit ook vir die geleentheid gedra word.

IETSIE GELEEN
Dis tradisioneel iets wat geleen is van ’n ander gelukkige bruid en simboliseer geluk.

  • Jou vriendin se sluier.
  • ’n Koekmes of iets wat op jou vriendin of ma se troue gebruik is. Dis nou een van daai troutradisies wat jy later ook prakties in die huis kan aanwend.
  • Oorbelle wat jou ma op haar troudag gedra het.
  • Blomme uit ’n vriendin of familielid se tuin kan ook in jou ruiker ingesluit word.

IETSIE BLOU
Dit simboliseer liefde, trou en opregheid.

  • Oscar De La Renta se Something Blue-parfuum kan goed werk hiervoor.
  • Juwele met saffiere in kan help om een van jou troutradisies ’n werklikheid te maak.
  • Blou naellak is ook ’n opsie as dit by die res van jou goed pas.
  • Die paartjie se name en troudatum wat op jou trouonderklere of êrens op die rok, in blou gare, geborduur is, kan ook mooi wees.
  • Blou kousbande is ook baie gewild hiervoor.

ANDER IDEES

  • Verbreek een van die formeelste troutradisies op die dag deur julle eie beloftes te skryf, eerder as om agter die dominee aan te sê. Dit kan baie treffend en persoonlik wees.
  • Vergeet van die romantiese, stadige dans om die dansbaan te open en oorweeg iets meer uitspattigs of opwindends soos ’n Flash Mob deur die gevolg of iets soos die Tango.
  • In plaas daarvan om die troutradisies te volg soos troukoeksny en om die ruiker en kousband te gooi, oorweeg dit om eerder:

– Kolwyntjies, roomys of kaas te gebruik wat aan die gaste bedien word;
– Jou trouruiker vir jou ouers te gee om dankie te sê vir hulle liefde en moeite; en
– Die kousband met biltongpakkies te vervang om die manne se laataand-honger te stil.

  • As jy nie lus is om die eerste drankies op jou troue ’n oop kroeg te maak nie, oorweeg dit om twee rondtes van ’n spesiale mengeldrankie te bedien… en noem dit iets oulik soos Just-Married-Tini.
  • Moderne paartjies hou daarvan om foto’s te gebruik. ’n Skyfievertoning, wat heeltyd in die agtergrond flits, van julle lewe saam, kan baie mooi wees.

Troutradisies hoef nie saai en vervelig te wees nie. Jy kan dit opkikker of selfs julle eie, nuwes, skep.

Foto: The Feminist Bride

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA