’n Trouwebblad is ’n oulike idee om jou gaste op hoogte te hou van al die reëlings vir julle groot dag en kan selfs jou trou-uitnodiging vervang. Mercia Eksteen het meer hieroor gaan uitvind.

Deesdae doen ons inkopies aanlyn, ons maak vriende op sosiale media en sommmige van ons vind selfs liefde aanlyn! Volgens navorsing spandeer ons een uit elke twaalf minute wat ons wakker is, of 43 ure per maand, aanlyn! As die meeste mense wat jy ken dan ’n e-posadres het en aanlyn besig is op hulle rekenaars, slimfone of tablette, maak dit sin om ’n trouwebblad te hê!

DIE VOORDELE VAN ’N TROUWEBBLAD

SPAAR TYD EN GELD
Dit is ’n eenmalige uitgawe waarvoor jy kan begroot en daar is soveel meer spasie om jou gaste ’n gevoel van julle troue te gee. Daar is geen drukkoste vir die uitnodgings nie en ook nie vir die antwoordkaartjies nie, om nie eers te praat van die posgeld, wat deesdae so duur (en soms onbetroubaar) is nie. Daar is ook nie die risiko dat die skryfbehoeftes nie presies druk soos wat jy dit wou gehad het nie.
Gaste kan ook laat weet of hulle kom of nie, deur van ’n RSVP-funksie op jou trouwebblad gebruik te maak.

SKEP IETS UNIEK
Elke paartjie is spesiaal en uniek. Elke aspek van julle troue moet julle besondere styl, as paartjie, weerspieël. Die trouwebblad is die eerste aspek van die troue wat jou gatse sal sien. Wanneer hulle julle trouwebblad besoek, behoort hulle onmiddellik ’n gevoel te kry van julle persoonlikheid as paartjie en die troue se styl en kleur. Jy kan selfs inspirasieborde oplaai, asook julle troukleure en -tema om die gaste opgewonde en nuuskierig te maak.

KOMMUNIKEER MET JOU GEVOLG
In sommige gevalle is die strooimeisies en strooijonkers nie in die dieselfde dorp of stad nie. Wanneer jy iets spesifiek en persoonlik aan hierdie groep wil kommunikeer, doen jy dit deur ’n bladsy op julle trouwebblad spesifiek vir hulle te skep, wat deur ’n wagwoord beskerm word. Op hierdie baldsy kan jy met hulle inligting kommunikeer oor idees of enige van die reëlings wat verander en so seker maak dat almal op dieselfde bladsy is.

GESKENKREGISTER
Nog ’n oulike funksie om in jou trouwebblad in te bou, is ’n geskenkregister. Jy laai die oorspronklike lys op die blad en jou gaste kan dit gereeld opgedateer soos wat hulle geskenke aankoop.

’N DIGITALE BELEGGING VIR DIE TOEKOMS
’n Trouwebblad kan ook ’n belegging na die troue wees, aangesien dit omskep kan word in ’n Forever Blog. Julle kan daar die troufoto’s oplaai en met almal deel. Julle familie en vriende kan op hoogte gehou word van julle reise, julle eerste huis, julle baba se geboorte, verjaarsdagpartytjies en spesiale geleenthede.

’n Trouwebblad het ewigheidswaarde. Belê vandag nog in hierdie digitale juweel, wat na jou kinders oorgedra kan word.

Bunnypants Graphic & Web Design Studio spesialiseer in trouwebblaaie. Lees in die nuutste uitgawe van Troukoors meer oor hulle en staan ’n kans om ’n trouwebblad te wen! Kliek hier om Troukoors se tydskrif te bestel.

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA