Jy kan nie kies tussen die twee trourokke wat jou asem weggeslaan het nie en het ’n ruim begroting… maar is dit aanvaarbaar om twee rokke gedurende jou troue te dra? Liza de Jager van Bella Vestito verklap meer oor hierdie nuwe neiging.
In die verlede, het bruide slegs begroot vir een trourok. Daardie een rok wat haar hart vinniger laat klop het. Vandag is dit nie altyd die geval nie. Sommige bruide het steeds net een trourok, maar daar is al hoe meer bruide wat kies om ’n tweede rok vir die dag aan te skaf.
Daar is verskeie redes hoekom ’n bruid besluit op ’n tweede rok. Hetsy dit vir gamak of dramitisering is, of net om haar eie persoonlike smaak te beklemtoon of bloot nie kon kies tussen twee mooi rokke nie.
Die eerste faktor om in gedagte te hou, is jou begroting. Begroting vir een trourok is al reeds iets wat die meeste bruide, haar ouers en die bruidegom laat sweet, wat nog te sê van ’n tweede rok. Die beste ding om te doen wanneer jy graag twee rokke wil hê, is om vir jou een begroting uit te werk. Jy kan dan besluit hoe jy die begroting opdeel tussen die twee rokke.
Indien jy albei rokke baie formeel wil hê, is dit dalk goed om die begroting te verdeel in 50% per rok. As jy jou tweede rok net vir die gemak kies, kan jy kyk om 75% vir die formele seremonierok te allokeer en die ander 25% vir jou onthaalrok. Sommige bruide kies ’n tweede rok omdat hulle graag in hulle ma se trourok die ja-woord wil gee vir sentiment, en dan is hulle gelukkig genoeg om hulle hele begroting op ’n tweede rok te kan bestee aangesien die ander rok so te sê verniet is, behalwe nou natuurlik vir alterasiekostes wat in gedagte moet gehou word.
HIER IS ’N PAAR IDEES VIR JOU EERSTE OF TWEEDE ROK
DIE LANG FORMELE ROK
Indien jy heelaand wil formeel lyk, is hierdie ’n goeie opsie. Dan is jy oop om enige trourok te kies vir die seremonie, want jy gaan later in ’n gemakliker rok kan dans en sosialiseer. Hierdie is veral ’n goeie opsie vir ’n bruid wat in ’n balrok wil trou, want later deur die aand kan dit nogal ’n ongemaklike affêre raak om te dans, tussen tafels en stoele deur te beweeg, asook om net die kleedkamers te besoek.
Die lang formele rok laat jou steeds soos die bruid lyk, maar dit maak net beweging baie makliker. Probeer in hierdie geval dan gaan vir ’n rok sonder ’n sleep sodat jy nie heelaand hoef bekommerd te wees oor mense wat dalk op jou rok trap en dit beskadig nie.
DIE KORT ROKKIE
Hierdie is veral n opsie om te oorweeg indien jy gedurende die somer die knoop deurhaak. Dit is vir die bruid wat koel en gemaklik wil voel, en net beitjie minder formeel wil voorkom tydens die onthaal. Dit is natuurlik ook ’n beter opsie vir ’n kleiner begroting aangesien kort rokkies oor die algemeen meer bekostigbaar is as lang formele rokke.
DIE TWEE-IN-EEN ROK
Die beste opsie, in my opinie, is natuurlik die twee-in-een trou rok. Jy kry byvoorbeeld die regte prinses-balrok wat so wyd is dat dit enige Disney-karakter jaloers sal maak. Daar is geen vraag oor hoe asemrowend jy en natuurlik ook jou foto’s sal lyk nie, maar gemak is nie aan die orde van die dag in so ’n rok nie. Gelukkig het ontwerpers gedink aan hierdie struikelblok, en vorendag gekom met die twee-in-een rok. Jy kan steeds soos ’n prinses lyk, maar later in die aand verwyder jy die romp van die rok en ’n gamaklike kort rokkie, wat steeds asems sal wegslaan, bly oor. Dit is ook begrotingsvriendelik, aangesien jy nou slegs vir een rok betaal, maar steeds twee rokke kry.
Onthou net, daar is geen reëls wanneer dit kom by ’n tweede rok nie. Doen wat vir jou die beste sal werk. Jy kan wit, ivoor of selfs een van jou troukleure, soos pienk of blou aantrek. Dit hang alles af van jou smaak. Die tweede rok is daar om jouself te kan uitleef, so gebruik die kans en wees net wie jy is.
Foto’s: Stella York; Brides; Mod Weddings