Nico het geweet dat Petri sy trouvrou is, nog voor hulle vir die eerste keer ontmoet het… en sy was verlief en verlore van die eerste oomblik wat sy hom gesien het.
Nico en Petri het ’n pragtige liefdesverhaal, wat op ’n hoë noot gevier is op hulle troudag. Petri onthul die besonderhede van hulle liefde en mooiste dag…
HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“Nico se vriend, Rodney, het eintlik gehelp om die bal aan die rol te kry. Ek is ’n diëetkundige wat privaat praktiseer en Rodney, wat ook voorheen in Bloemfontein gebly het, het vir Nico van hierdie diëetkundige vertel wat in sy selgroep is. Kort voor lank het Rodney se vriend ’n konsultasie by my bespreek… al die pad van Bloemfontein af. Hy wou kamstig ’n bietjie hulp met sy diëet hê. So ons liefde het êrens tussen 1 000km se ry en ’n R687.60 se konsultasiefooi begin blom.”
WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR VERLIEF GEMAAK? “My man was verlief op my nog voor hy my ontmoet het. Toe hy my vir die eerste keer sien was dit asof God sy oë oopgemaak en hom toegelaat het om tot binne my siel te kyk. Hy het verlief geraak op die vreugde van die Here wat uit my gestraal het. Hy het basies geweet dat ek sy trouvrou is van die eerste oomblik wat hy my gesien het.”
WANNEER HET JULLE GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL IS?
“Die Woensdag na die konsultasie, nadat Nico sy rekening vereffen het, het ek ’n boodskap ontvang om te vra of hy my kan skakel om oor iets anders as sy diëet te gesels. Sy woorde aan my was: “Sal jy my die geleentheid gun om jou beter te leer ken” – waar op aarde kry mens ’n Godvresende man wat sò ordentlik is, het ek gedink. Ek het onmiddellik geweet hierdie is my trouman!”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons heel eerste uitstappie saam in Pretoria was na Groenkloofnatuurreservaat. Met ons verlowing het Nico weereens, sonder my medewete, vir Rodney gekry om vir my ’n konsultasie vir die Saterdag te reël met sy vriendin wat op geen ander dag as hierdie Saterdag kon kom vir ’n afspraak nie. Nico het toe aangebied om my te gaan aflaai aangesien ons mekaar baie min sien en dus baie tyd saam wou spandeer. Die vriendin stuur toe vir my die koördinate vir haar ma se huis waar ons sou ontmoet. Lang storie kort – die koördinate het ons Groenkloof toe gevat en ek was baie verward. Sy antwoord toe nie haar foon nie, waarna Nico toe voorstel dat ons maar wel Groenkloof toe moet gaan. Hy het vir my ’n groot boks met geskenke gegee wat hy een vir een vir my uitgepak het… die laaste geskenk was ’n leë boksie… met die regte een in sy sak het hy toe op een knie gegaan en die antwoord was… IS JY ERNSTIG? JA, JA!”
HOE LANK WAS JULLE VERLOOF?
“Ons het 19 Julie 2014 verloof geraak en 25 Oktober getrou – so ongeveer 3 maande.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons ooreenkoms was van die begin af om nie met skuld te sit na die troue nie en dus om alles kontant te doen. Ons het daarom begin deur ’n begroting op te stel wat vir ons die bepalende faktor was met elke besluit en aankope. Ons het meeste dinge self gereël en gedoen. Nico se ma het baie gehelp om die meeste van die werk te laat gebeur. Die kleurskema en die tema het gespruit vanuit die atmosfeer en gevoel wat ons by die troue wou skep.”
WAT WAS DIE TEMA EN KLEURSKEMA?
“Ons tema was Effesiërs 3:20, want God het ’n gelooflike werk in ons albei se lewens kom doen, wat meer en groter en mooier is as wat ons in ons wildste drome kon dink. Daarom was skrif ’n groot gedeelte van die dekor. Ek wou ’n sagte, elegante atmosfeer van prag en pastelkleure skep. So ons het verskillende skakerings van koraal en aardsbruin gebruik om die natuurlike en sagte gevoel te skep.”
WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Familie en vriende is vir ons albei baie belangrik. Elkeen van die gaste wat ons genooi het vorm deel van ons menswees, amper soos ’n bestanddeel wat noodsaaklik is vir ’n resep om suksesvol te wees. Dus wou ons ’n atmosfeer skep wat almal welkom sou laat voel. Ons het probeer wegbeweeg van die bekende tradisies waaraan almal gewoond is. Ons wou ’n meer persoonlike atmosfeer van eerbied en dankbaarheid skep, wat ten volle eer sou gee aan God se goedheid in ons lewens. Dus het ons die foto’s van die gaste gebruik as tafelplasings en het ons die temaskrifgedeelte, Effesiërs 3:20, as skrif op ons plekmatjies gebruik. Die sagte rustige landskap van die venue het ook gehelp om die rustige atmosfeer deur te trek.”
BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Die troue was vir my heeltemal oorweldigend. Alles het mooier gelyk en beter verloop as wat ek ooit kon beplan. Die sang en lofliedere waarmee ons die seremonie geopen het, was vir my een van die hoogtepunte van die dag. Dit het absoluut die atmosfeer van eerbied geskep wat ons graag wou hê.”
HET ENIGIETS SPESIAAL OP JULLE TROUDAG GEBEUR?
“Ek en Nico het mekaar presies 365 dae geken op ons troue, asof God vir ons ’n volle sirkel laat voltooi het wat die einde van een seisoen aangedui het… en die begin van ’n nuwe een. Ons het van die begin af besluit dat ons nie sou soen tot en met ons troudag nie. So dit was ’n baie spesiale teken van eerbied vir my. Op ons troudag het die pastoor perongeluk vergeet om aan te kondig dat Nico nou maar uiteindelik, na 365 dae sy bruid mag soen… so ons moes vra: “Wat van die soen?” Die wag was meer as die moeite werd gewees!”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Almal dink ’n mens het ses of meer maande nodig om ’n troue te reël. Ek het nou weer gebid dat God vir my nooit meer as twee opsies moet gee om van te kies nie. Ek voel wannneer jy te veel tyd het om te beplan, twyfel jy konstant of jy die regte keuse met die kleurskema, tema, tafeldoeke, blomme, rok en self skoene gemaak het. Moet ook nie skaam wees om vir hulp te vra nie, en indien jy nie heeltemal tevrede is met iets nie, moet jy onmiddellik praat, want op die ou einde is dit jou spesiale dag. Ek en Nico het ook van die begin af besluit om ’n uitstekende fotograaf te kry, aangesien die foto’s so ’n integrale gedeelte is van wat jy vir die res van jou lewe van die troue oorhet. Ons fotograaf het die atmosfeer en gevoel van ons troue meer as perfek vasgevang.”
WAS DAAR ENIGE SELFDOEN-PROJEKTE WAT JY AANGEPAK HET?
“Ek het besluit om ’n brownie in a jar-geskenkie te maak wat sou dien as die stukkie troukoek en geskenk vir die gaste. My hart en die storie agter die geskenk was eintlik die belangrikste boodskap wat ons wou oordra. Elke persoon wat ons troue bygewoon het. is soos ’n bestanddeel van die resep in ons lewens. Soms is daar bitter dinge wat gebeur, soos wannneer jy kakao op jou tong proe. Soms proe jy weer net die soet van die sjokolade en suiker in jou lewe. Maar op die ou einde kan geen bestanddeel op sy eie die smaak gee van een goed gebakte snytjie koek nie. Nico is vir my die finale bestanddeel, wat gemaak het dat al die individuele bestanddele op hulle eie bymekaar gekom het om die perfekte koek te bak.”
DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering, drankies, troukoek, vervoer: Lezar Opstal
Koördinering en dekor: Petri Fourie van Lezar Opstal
Blomme: Wena de Jager; 082 399 3434
Skryfbehoeftes: Petri Fourie en Mieke Moller
Foto’s: Stella Uys
Musiek: Fanie Potgieter van Lezar Opstal
Trourok: Chiqwawa
Hare: Emri Griessel; 084 340 4704
Grimering: Corne Lourens van Beautiful Change
Bruidegom se uitrusting: Christelle Louws Couture Bridal Boutique