’n Verlowing is altyd ’n baie spesiale geleentheid. Annieke en Janse het hierdie oomblik herskep met ’n pragtige vintage-styl fotosessie.

Omdat hulle graag hulle verlowing wou vier, het hulle besluit om ’n verlowingsfotosessie te hou met al die tierlantjies wat hulle persoonlikhede en voorliefdes insluit. Hulle wou ook graag die foto’s gebruik vir hulle trouskryfbehoeftes. Ons het meer gaan uitvind oor die paartjie en hierdie oulike fotosessie.

HOE HET JULLE ONTMOET VOOR DIE VERLOWING?
“Ek het na een van my broer se rugbywedstryde gaan kyk by LC de Villiers. Daar kom toe ’n oom van voor af, wat stop en vir my sê: ‘Jy is pragtig. Jy laat my dink aan ’n filmster… wat is haar naam nouweer? O ja, Jessica Alba.’ Janse het nie geweet waar om sy kop in te druk nie, want dit was sy pa. Ons het die Desembervakansie mekaar weer raak geloop by Hartenbos en het van daar af saam met mekaar begin kuier. Ons was baie goeie vriende vir vier maande en het in daardie tyd op mekaar verlief geraak. Ses maande later, was ons amptelik ’n paartjie omdat ons besef het dat ons meer is as net vriende.”

NA DIE VERLOWING BEGIN DIE TROUBEPLANNING, HOE LYK JOU DROOMTROUE?
“My perfekte troue sal wees om by ’n venue te trou wat perfek pas by die sprokiesverhaal in jou drome. Jou rok moet gemaklik en mooi wees en jy moet ook gemaklik saam met jou gaste kan kuier. Daar moet lekker kos wees en musiek vir almal. Baie mooi foto’s moet geneem word en die meeste van die klein goedjies moet gevang word op kamera. Ek is mal oor perde en sal saam met een van my eie perde afgeneem wil word en dan met ’n koets inkom. Dan moet God ons dag seën en daar wees saam met ons. Sonder Hom sal niks moontlik wees nie.”

DIE FOTOGRAAF VERTEL
Tanya Strauss het die herinneringe van die paartjie se verlowing verewig. Ons het meer gaan uitvind oor die inspirasie agter die foto’s…

WAT WAS DIE TEMA VAN DIE FOTO’S WAT ANNIEKE EN JANS SE VERLOWING VEREWIG HET?
“Sagte pastelkleure was die tema. Annieke besit ’n perdryklub met die mooiste perde. Ons het daarom ’n romantiese piekniekatmosfeer geskep met perde, sagte pienkskakerings en ’n oulike vintage fiets.”

WAT WAS VIR JOU SPESIAAL OMTRENT DIE PAARTJIE?
“Die feit dat hulle al vir jare uitgaan, maar steeds so verlief is op mekaar.”

HOEKOM IS ’N FOTOSESSIE ’N GOEIE IDEE OM ’N VERLOWING MEE TE VIER?
“Dit help die paartjie om die fotograaf te leerken en gewoond te raak aan die senuwees voor die kamera, voordat die groot dag aanbreek.”

WAT IS DIE LEKKERSTE DEEL VAN JOU WERK?
“Om emosiebelaaide oomblikke vas te vang. Ek hou ook daarvan om kliënte die geleentheid te gee om kosbare oomblikke te kan herleef – dis amper soos ’n super power.”

Julle kan jul verlowing ook vier met ’n pragtige gestileerde fotosessie, wat wie julle is perfek vasvang. Gesels met jou troufotograaf hieroor!

Foto’s: Tanya Strauss Photography

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA