Verlowingsfoto’s kan handig te pas kom voor en na die troue, daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy behoorlik beplan, sodat dit julle (as paartjie) se persoonlikheid kan reflekteer.


Ané en Jan-Louis het hulle verlowinsgfoto’s by die pragtige Toadbury Hall gedoen. Hulle lyk omtrent soos iets in ̓n mode-tydskrif met hul elegante blomtema. An-Sophié Lourens het gaan uitvind hoe hulle dit reggekry het om iets so mooi soos Namakwaland se blommeprag in ̓n foto vas te vang.

DIE FOTOGRAAF SÊ:
WAT WAS DIE TEMA VAN DIE VERLOWINGSFOTO’S?
“Ek het Toadbury Hall voorgestel en Ané het besluit om een van Silver Swallow Design se geblomde rokke te dra. Die omgewing en Ané se rokkeuse, het ̓n pragtige blomtema vasgevang.”

HOEKOM MOET PAARTJIES VERLOWINGSFOTO’S LAAT NEEM?
“Dit maak die paartjie meer gemaklik voor die kamera en aan die manier hoe die fotograaf foto ̓s neem, dus voel hulle meer gemaklik op die troudag. Doen goeie navorsing oor verskillende fotograwe se huidige werk en kies so die fotograaf van wie se werk jy die meeste hou.”

WAT IS DIE LEKKERSTE DEEL VAN JOU WERK?
“As ek net by die verlowingsessie of troue aankom en sien wat ek gaan kan afneem en hoe díe spesifieke paartjie en individue se menswees, smaak en styl hulle foto ̓s beïnvloed.”

HOEKOM HET JUL VERSKILLENDE UITRUSTINGS GEBRUIK VIR DIE VERLOWINGSFOTO’S?
“Dit is altyd goed om twee uitrustings te kies vir verlowingsfoto’s. Dit gee die paartjie keuses, vir as een stel foto ̓s nie na wense is nie. Ané & Jan-Louis wou een formele uitrusting hê en een wat hulle as paartjie uitbeeld.”

DIE PAARTJIE VERKLAP…
HOE HET JULLE ONTMOET EN VERLIEF GERAAK? NA HOE LANK HET JULLE BEGIN UITGAAN?
“Ons het op ’n toe-oë-afspraak ontmoet en dit het gevoel asof ons mekaar al vir jare ken. Ons was baie gemaklik met mekaar en het geweet dit is die begin van groot dinge. Na afspraak nommer vier, was hy my kêrel.”

WATTER KARAKTEREINSKAPPE VAN MEKAAR IS VIR JULLE DIE MOOISTE?
“Hy waardeer dit dat ek altyd myself en eerlik is, en hy laat my altyd lag en is baie ondersteunend.”

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM VERLOWINGSFOTO’S TE NEEM?
“Ons het besluit om ̓n prettige, spelerige fotosessie te doen om Jan-Louis gemaklik te maak voor die kamera. Ek ken vir Marné al van my studentedae af. Ek kon nie aan iemand beter dink, wat ons as paartjie ken, om die fotos te neem nie.”

BESKRYF JOU PERFEKTE TROUDAG?
“Ek stap met romantiese beligting by die isle af na die liefde van my lewe toe en word sy vrou met ons naaste vriende en familie as getuies. ̓n Dag van lag, liefde en pret in aardse, rustieke styl.”

̓n Verlowingsessie gaan nie net oor mooi verlowingsfoto ̓s nie, dit hou soveel ander voordele ook in. Ané en Jan-Louis het hierdie voordeel getrek en bo dit, ̓n prentjie so mooi soos Namakwaland se blommeprag op film vas gelê.

DIENSVERSKAFFRS:
Venue: Toadbury Hall
Fotograaf: Marné Photography
Hare: Paintbrush Beauty
Grimering: René Engelbrecht

Rokke: Silver Swallow Design

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA