Versier is nie altyd maklik nie, veral nie wanneer dit by jou troukoek kom nie. Minette Badenhorst het gaan uitvind hoe jy jou eie kaal-troukoek kan versier.

Celeste Kruger is die eienaar van Sweetly Cakes, wat hierdie jaar hul sesde verjaarsdag in die bakwêreld vier. Die kwaliteit van haar koeke dui daarop dat sy ʼn fyn oog vir detail het.
Vandag wys sy vir ons stap-vir-stap hoe om jou eie kaal-troukoek te versier.

WAT JY GAAN NODIG HÊ
• 15cm-sponskoek, enige geur of kleur
• 20cm-sponskoek, enige geur of kleur
• Dun, 15cm-koekbord, silwer of goud
• 25cm-koekbord, silwer of goud
• Houtstokkies, dieselfde hoogte as die hoogte van die 20cm-sponskoek
• Botterversiersel, gewoon of gekleur in die kleur van jou keuse
• 10 makrolletjies, enige geur en/of kleur van jou keuse
• Karamelspringmielies
• Eetbare blinkers
• Vars blomme
• Koekversiering, opsioneel

Lazy Susan (draaiversierstaander)
• Skerp mes
• Skêr
• Paletmes
• Plastiekskraper

VERSIER SO JOU KAALKOEK
1. Plaas die 15cm-sponskoek op die dun, 15cm-koekbord. Versier die sponskoek met botterversiersel. Skraap die kante van die koek met die plastiekskraper. Verkoel die koek vir 30 minute tot benodig. Vee die plastiekskraper skoon.
2. Plaas die 20cm-sponskoek op die 25cm-koekbord. Versier die 20cm-sponskoek met die botterversiersel. Skraap die kante van die koek met die plastiekskraper.
3. Druk die houtstokkies in die 20cm-sponskoek en plaas die 15cm versierde sponskoek bo-op die 20cm versierde sponskoek. Die houtstokkies verskaf die nodige ondersteuning vir die boonste lag.
4. Versier nou die koek deur die makrolletjies en springmielies op die koeke te plaas. Versier die koek verder met die vars blomme en eetbare blinkers.

Wenk: Jy kan ook die volgende gebruik om jou kaal-koek mee te versier:
Gold leaf
• Neute
• Sjokolade
• Skuimpies
• Varsvrugte

* Die versier jou troukoek-artikel is deel van ’n gestileerde fotosessie. Gaan loer gerus hoe die ander foto’s lyk en hou die blog dop om nog oulike selfdoenprojekte uit hierdie sessie te sien.

Foto’s: Celeste Cilliers Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA