Verversings voor die onthaal is ʼn gunsteling by troues. Dit skep ʼn ontspanne atmosfeer en kry almal in ʼn vrolike, feestelike bui. Bier en siders is wel die mees algemene verversings, maar is verseker nie die enigste opsie nie.

Bier en ander gebottelde drankies is ʼn maklike opsie vir verversings voor die onthaal, terwyl die bruidspaar en gevolg foto’s neem, vir die eenvoudige rede, dit is meeste mense se voorkeurdrankie. Tog, is daar soveel meer alkoholiese en nie-alkoholiese drankies wat ʼn mens van kan kies en wat gaste sal geniet.

Hier is ʼn paar alternatiewe opsies vir verversings voor die onthaal:
• ʼn Jenewerstalletjie: Fynproewersjenewer maak deesdae ʼn groot gegons. Dit is ʼn goeie opsie, want dit kan vir gaste wat ʼn soeter of meer bitter jenewer verkies voorsien. Dit word ook deesdae in die mooiste botteltjies verkoop, wat sommer jou tafel aanloklik sal laat lyk. Een ding is virseker, dis nie baie bekostigbaar nie. ʼn Oplossing vir jou beursie is om jou eie gin te meng en dit interessant te bedien. Koop gewone, bekostigbare jenewer. Maak glashouers met kraantjies vol met toniese water, lemonade, Stoney of jou voorkeurkoeldrank en meng die jenewer vooraf in. Sit verskillende soorte bessies, sitrusvrugte, kruisementblare, roosmaryn en ander produkte wat by jenewer pas in bakkies op ʼn tafel en voila! Gaste kan hulle eie verversings bou na hulle smaak.
• Gebruik die bruidspaar se gunstelingdrankies. Plaas die drankies op twee verskillende tafels, wat aandui “Syne” en “Hare”. As die bruidegom ʼn Klippies & Cola-man is, meng weereens dit vooraf en plaas in glashouers met kraantjies. As die bruid hou van ʼn Aarbei-daiquiri, maak sommer self die mengeldrankie en bedien in mooi glase.
• Voor die winterwinde weer by die deur uit waai, is warm verversings dalk ’n goeie opsie. ʼn Warm koppie cappuccino of warmsjokolade kan ʼn lekker, warm en gesellige atmosfeer skep op ʼn koue dag. Daar is baie kits opsies op die rakke beskikbaar wat eenvoudig net kookwater kort. Vir iemand wat iets sterkers vir die koue wil hê, kan daar altyd ʼn plan gemaak word met ʼn Ierse koffie.
• Die voorafverversings hoef ook nie altyd alkoholies te wees nie. Pak glas Coca-Cola-botteltjies uit, sit strooitjies in, plak ʼn vlaggie op die strooitjie en dui sommer die gaste se name en tafelnommers daarop aan. Niemand kan nee sê vir ʼn yskoue Coca-Cola op ʼn warm somersmiddag na ʼn lang kerkseremonie nie.
• Slop-soppies. Dit is nie net Coca-Cola wat baie aftrek gaan kry in die somer nie, ʼn slop-soppie gaan net so groot lafenis vir ʼn droë keel wees. Dit kan vreeslik mooi bedien word in glase of glashouers en in verskillende kleure. Niks keer julle om ʼn alkoholiese opsie by te voeg nie, party slop-soppie-masjiene kan ʼn mens siders gebruik vir die slop-soppie of jy gooi net ʼn bietjie vodka by!

Nou klink dit darem maar na ʼn feestelike bruilofsfees! Vergeet van vervelige verversings en gebruik jou kreatiwiteit om die gaste in ʼn ontspanne en vrolike bui te kry. Dit kan wees met koue of warm, alkoholies of nie-alkoholiese drankies, maar so lank gaste kan knibbel en kele natmaak, is hulle op hulle gelukkigste!

Artikel: An-Sophie Lourens

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA