verwelkom jou oujaarsgaste met drankie 1
Dit is ’n splinternuwe jaar en weer tyd vir partytjies en funksies… en as dit julle eerstes is as getroudes, wil jy beslis die gaste beïndruk. Verwelkom gaste met drankies wat jy self gemaak en kreatief voorgesit het.

Dit is deesdae te duur om ’n oop kroeg te hê en al die drankies te verskaf, maar jy kan beslis die verrigtinge afskop met ’n lekker drankie wat nie jou spaarvarkie hoef te breek nie. Gooi dit ook in mooi glasbotteltjies, groot glas houers, ’n ponsbak of selfs konfytflesse en versier dit met mooi gekleurde strooitjies om die prentjie af te rond.

verwelkom jou oujaarsgaste met drankie 2
HIER IS ’N PAAR OULIKE SAKPASDRANKIES OM TE PROBEER…

ALKOHOLIES

SANGRIA
Bestanddele:
1 bottel mediumsterkte of ligte rooiwyn
2 koppies Sprite
2 eetlepels suiker
2 eetlepels brandewyn
1 lemoen in dun skywe gesny
½ houer bessies
1 koppie Sodawater

Metode:
Meng die wyn, Sprite, suiker en brandewyn saam in ’n groot houer en roer totdat die suiker opgelos het. Voeg die vrugte en dan die Sodawater by. Verkoel ten minste vir ’n uur voordat jy dit bedien sodat die geure van die vrugte met die drank kan meng. Bedien individueel of in ’n mooi ponsbak.

MAKLIKE MENGELDRANKIE
Bestanddele:
1½ koppies vodka, vooraf verkoel
2 koppies bosbessiesap (cranberry), verkoel
2 koppies granaatsap, verkoel
3 eetlepels vars suurlemoensap

Metode:
Meng al die bestanddele saam in een groot houer en bedek met kleefplastiek. Hou in die yskas tot jy reg is om dit te bedien. Bedien individueel of gooi dit in ’n groot houer met ’n kraantjie en laat die gaste hulself help.

PEERVERRASSING
Bestanddele:
2 bottels vrugtige vonkelwyn (wit)
4 koppies peersap
1 lemmetjie in skywe gesny

Metode:
Bedien in afsonderlike sjampanjeglase. Sit ’n lemmetjie skyfie in elke glas. Vul dan elke glas ¾ met sjampanje en maak vol met die peersap.

VESELPERSKEVONKEL
Bestanddele:
1 bottel wit, soet vonkelwyn
1 bottel natuurlike soet witwyn
1 liter veselperskesap
Gesnyde vrugte van jou keuse soos appel, druiwe, aarbeie, lemoen

Metode:
Kry ’n groot ponsbak en sny vrugte in sodat dit op die bodem lê. Voeg dan die drank by. Bedek met kleefplastiek en hou ten minste vir ’n halwe dag in die yskas voordat jy dit bedien.

verwelkom jou oujaarsgaste met drankie 3

NIE-ALKOHOLIES

KANEEL- EN APPELPONS
Bestanddele:
1½ koppies bosbessiesap (cranberry)
1½ koppies appelsap
1½ koppies koue water
7 kruisement- en kaneelsuiglekkers of net pepperminte
1½ koppies Sprite Zero
Appelskywe

Metode:
Meng die sap, water en Sprite Zero saam in ’n groot houer. Roer die lekkers in. Bedek en verkoel tot die lekkers opgelos het (ten minste vier ure). Bedien saam met vars appelskywe individueel of in ’n groot houer.

KLASSIEKE LEMONADE
Bestanddele:
10 glase koue water
2 koppies suurlemoensap
1 koppie suiker met ’n knippie sout in

Metode:
Gooi die water in ’n groot houer en voeg die suurlemoensap by. Roer die suiker in totdat dit heeltemal opgelos het. Verkoel. Bedien afsonderlik of in ’n mooi houer en versier met suurlemoene.

Hierdie drankies kan natuurlik almal ook werk as welkomingsdrankies by jou troue of by ander partytjies.

Hooffoto: Brides and Groom Store
Foto’s: Dolly’s Vintage Tea Party; Eventfully Jacquelyn; Glamour and Grace

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA