André en Marli was nege jaar saam voordat hulle uiteindelik saam voor die kansel gestaan het. Dit het hulle geleer dat vriendskap die beste fondasie is vir liefde wat vir altyd sal hou.
Die oggend voordat André en Marli by Oxbow Country Estate sou trou, het dit gereën en was hulle baie emosioneel… maar teen die tyd wat sy met die paadjie moes afstap, het die son uitgekom om liefde en geluk uit te stort oor hierdie spesiale dag. Sy vertel ons bietjie meer oor wat agter die skerms gebeur het.
HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“In ons eerste jaar op Universiteit. Ons koshuise het saam gesleep. Tussen blommetjies vou, koshuisaksies en krieketwedstryde het ek my Bekkie gevind. WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR VERLIEF GEMAAK?
Die fondasie van ons verhouding is vriendskap. Ons komplementeer mekaar baie goed. André het ’n vreeslike sagte hartjie, gee om vir ander en sien altyd die beste in elke mens raak.”
HOE HET JULLE GEWEET JULLE IS VIR MEKAAR BEDOEL?
“Ek is ’n baie onafhanklike mens en was altyd bang vir ernstige verhoudings. Ek het vir twee jaar Kaap toe getrek na Universiteit en toe is ek vir amper ’n jaar oorsee. André was nog altyd daar, hy het nooit moed verloor nie en aanhou baklei vir ons! Watter meisie kan nee sê vir iemand wat vir nege jaar nie nee vir ’n antwoord wil aanvaar nie?”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ek het vir André weggevat vir sy verjaarsdag na twee lodges in die bos. Ek het ’n romantiese privaatete gereël op ons dek… toe ek weer sien word ek verras op sy verrassing. Ek het na die tyd uitgevind dat hy ook kop in een mus was met die personeel.”
WATTER ATMOSFEER WOU JULLE GRAAG OP JULLE TROUE SKEP?
“’n Gemaklike, maar ook elegante atmosfeer! Ons wou graag hê dat die gaste die dag saam met ons moes geniet.”
WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA?
“Ek het geweet dat dit nog baie droog gaan wees in Augustus en het gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n kombinasie van beige en wit te gebruik. Proteas is gebruik om kleur by die mengsel te voeg. My strooimeisies het sjampanjekleurige rokke gedra. Ons is baie plat op die aarde mense en wou alles so natuurlik as moontlik laat lyk, sonder te veel tierlantyntjies. Minder is meer!”
BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Dinge het redelik emosioneel geraak die oggend voor die troue, toe dit liggies begin reën (van wanneer af reën dit in Augustus?), maar ons het dit gesien as ’n teken dat my ma ook saam met ons hierdie spesiale dag deel. Teen die tyd wat ons in die kerk moes instap het die sonnetjie sy koppie uitgesteek en alles het net perfek in plek geval.”
WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“My strooimeisies was fantasties. Hulle het seker gemaak alles is in plek en dat my senuwees onder beheer gebly het. Ons plan was om origami-voëltjies orals buite om die onthaalsaal te hang om die droë bome bietjie op te kikker, maar as gevolg van die weer was maande se gevou tot nuut.”
HET ENIGIETS SNAAKS GEBEUR?
“My strooimeisies het deur die loop van die aand hul rokke oopgesny, sodat daar meer plek was vir die bene om te dans.”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Ek het dit geniet om alles self te reël en het ’n baie effektiewe Excel-dokument saamgestel en stiptelik by hom gehou. Moenie stres oor klein goedjies nie, jy is die enigste een met die perfekte dag in jou kop, jou gaste gaan nie eers agterkom as iets klein nie realiseer op die dag nie.”
WAS DAAR ENIGE DOEN-DIT-SELF-PROJEKTE?
“Ons gaste se geskenkies was houtborde, wat ook hulle plekmatjies was. My skoonma het vir ons woestynrosies geplant en ons het dit in ’n glaspotjie gesit, elk met ’n vlaggie in wat gedien het as ons tafelplasings. Ons het nie spyskaarte op die tafels gehad nie, slegs ’n swartbord wat by die deur gestaan het met die spyskaart op.”
WATTER DIENSVERSKAFFERS HET UITGESTAAN?
“My fotograaf, Stella Uys, sy is absoluut die beste besluit (naas my man natuurlik) wat ek gemaak het! Ons wou graag die beste een hê! Foto’s was baie belangrik vir ons, dit het jy immers vir altyd! Debbie, van Bella Fiore, wat ons blomme gedoen het was ook wonderlik. Ek en sy het dadelik gekliek en sy het presies geweet wat ek wou hê.”
DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering en drankies: Osbow Country Estate
Blomme: Debbie van Bella Fiore
Troukoek: Levia Weddings
Fotograaf: Stella Uys Photography
Musiek: MSM Produksies in Potchefstroom
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare: Suzanne van Heerden van Cutting Edge
Grimering: Lauren Smit
Bruidegom se uitrusting: Khaliques