Trougaste

Jy is uitgenooi na die troue van die jaar en sien baie uit. Maar daar is ’n paar dinge waaroor jy onseker voel. Hier is alles wat jy oor troues moet weet om jouself nie in die verleentheid te stel nie.

Net soos met elke ander ding in die lewe, is daar ook sekere reëls en etiket wanneer dit by die bywoon van troues kom. Om seker te maak dat jy die perfekte trougas is, het ons ’n lys van raad en reëls opgestel wat jou baie sal help wanneer jy sulke funksies bywoon, want niemand wil sosiale flaters begaan nie.

* RSVP altyd betyds. Dit is nie moeilik nie en sal die bruid baie frustrasie spaar.

* As die uitnodiging nie sê jy kan ’n METGESEL bring nie, moenie. Troues is duur en as jy gaan vra, sit jy die bruid in ’n moeilike posisie en kan sy nie eintlik nee sê nie.

* Jy moet ’n GESKENK gee, altyd. As daar ’n trougeskenkregister is, kies iets waarvan die paartjie hou en as hulle geld verkies, respekteer hulle wense.

* Kyk na die DRAGVEREISTES op die uitnodiging en trek reg aan. Indien dit nie op die uitnodiging verskyn nie, vra vir die strooimeisies of die bruid se ma wat gepas sal wees. Moenie blink klere vir ’n oggend- of middagtroue dra nie en vermy wit. Dis die bruid se dag, nie joune nie. Moet nooit ’n denim aantrek nie, behalwe as dit spesifiek gevra word.

* Wees BETYDS vir die troue… dis slegte maniere om na die bruid in te stap.

* Woon die SEREMONIE en ONTHAAL by. Dit is slegte maniere om net vir die partytjie-gedeelte te kom.

* Respekteer FORMALITEITE. Moenie tussen-in gesels, lag of grappies maak nie. Dis miskien vir jou vervelig, maar beteken baie vir die betrokke partye.

* Sit jou foon op SILENT en moenie heeltyd tik of op jou foon kyk nie – veral nie tydens die seremonie.

* Moenie probeer om snaaks te wees op TROUFOTO’S nie. Die paartjie wil mooi foto’s hê vir hulle album en daar is min tyd, so glimlag net vir die een keer normaal.

* Moenie soveel DRINK dat jy jou balans en goeie maniere verloor nie.

* Kies van die begin af GEMAKLIKE skoene of vat plat skoene saam. Dit is nie gepas om kaalvoet rond te loop by ’n troue nie – tensy dit op die strand is.

* Moenie iets sleg SÊ oor die troue, bruidspaar of hulle ouers terwyl jy daar is nie. Eintlik moet jy glad nie skinder nie, maar jy weet nooit wie hoor jou op die dag en wie se gevoelens maak jy seer nie.

Hierdie is die basiese beginsels wat in plek moet wees, vir jou om die perfekte trougas te wees. Moet ook nie vergeet om die dag te geniet en aan al die aktiwiteite deel te neem nie. Die bruidspaar het baie moeite en geld spandeer, so maak die beste daarvan.

Foto: Huffington Post

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA