Die weer is iets waaroor jy nie beheer het nie, maar dit hoef nie jou troue te bederf nie. Hier is ’n paar wenke oor wat jy wel kan doen wanneer dit te warm, koud, winderig of waterig is op jou mooiste dag.

Paartjies spandeer maande en baie geld aan die reël en beplan van hulle troudag, daarom is dit nie ideaal wanneer iets, soos die weer, skeefloop en al die beplanning omver werp nie. Eintlik is dit meeste bruide se nagmerrie. Maar dit is ongelukkig nie iets wat enigeen van ons kan beheer nie. Daarom is dit ’n goeie idee om voorsorg te tref waar jy kan, om seker te maak dat die natuurelemente nie jou troue bederf nie.

AS DIE SOMERSDAG TE WARM IS
Somer is die gewildste seisoen vir paartjies om te trou. Maar in Suid-Afrika kan hierdie seisoen nogal warm raak, daarom moet jy ’n paar faktore in ag neem en oplossings in plek sit wanneer jy beplan.
* As julle buite trou, maak seker dat daar skaduwee is vir die gaste om in te sit. Niemand wil verbrand in die son terwyl die dominee preek nie. Maak ook seker dat die son nie direk in jou gaste se oë skyn gedurende die seremonie nie.
* Maak seker dat daar koue water beskikbaar is oral, sodat die gaste nie dehidreer of al vroegmiddag die kroeg leegkoop nie.
* Oh So Heavenly het ’n verfrissende lekkerruiksproei beskikbaar in verskillende geure. Plaas gerus ’n botteltjie op elke paartjie se stoel, sodat hulle verfris kan voel… en dit lyk heerlik! Sproeibottels met water in, kan ook goed werk.
* Gee vir gaste Chinese sambreeltjies of handwaaiers as dankiegeskenkies. Dit sal mooi lyk op foto’s en gaste ook help om koel te bly in die warm weer.
* Sit sonskerm in mandjies vir ingeval jou gaste dit nodig het. Niemand wil rooi tamaties op hulle troufoto’s hê nie.
* Maak seker dat eetgoed beskerm en verkoel is. As julle roomys bedien, moet dit tot op die laaste minuut in die vrieskas gehou word sodat dit nie smelt nie.
* Maak genoeg deure en vensters oop sodat daar ’n trek is, behalwe as daar lugversorging is, dan moet deur toe bly om die koue in te hou.
* As jy ’n buitetroue het, maak seker dat die venue ook ’n onderdakgerief beskikbaar het, want saam met hittige weer kom daar dikwels ook reën en dis beter om voorbereid te wees.


AS DIE DAG KOUD EN NAT IS
Dit kan nogal baie reën gedurende die somermaande en as jy in die Kaap is, en in die winter trou, kan jy koue, nat weer te wagte wees. Maak seker jy is voorbereid.
* Vra jou gaste om sambrele saam te bring troue toe en kry ’n paar ekstra vir diegene wat dalk vergeet. Niemand hou daarvan om in sopnat klere rond te loop wanneer dit koud is nie.
* Kry ’n deursigtige reënjas om oor jou trourok aan te trek vir die rukkie wat jy buite moet wees vir foto’s ensovoorts. Dis nou wel nie pragtig nie, maar sal jou droog hou sodat jy steeds mooi kan lyk wanneer jy moet.
* Verruil jou hakskoene vir reënstewels wanneer jy buite in die modder moet loop. Dit is deesdae nogal gewild en lyk mooi op foto’s.
* Kry verwarmers en plaas dit oral in die onthaalsaal sodat die vertrek kan warm word of vra die venue (as hulle een het) om die ingeboude verwarmer of kaggel aan te steek. Warm gaste, is gelukkige gaste, ten spyte van die weer.
* Kry sagte kniekomberse en plaas dit in mandjies oral teen die muur, sodat die gaste wat koud kry, lekker snoesig daarmee kan sit by die tafel.
* Kies warm items vir jou spyskaart soos warmsjokolade as welkomdrankies, sop ensovoorts. Dit sal ook help om die koue te verjaag. Pannekoek kan ook oulik werk as ’n happie terwyl gaste vir die formaliteite om te begin.

JY KAN STEEDS PRET HÊ, AL SPEEL DIE WEER NIE SAAM NIE
Jou gesindheid gaan jou groot dag maak of breek, so maak die beste van ’n minder goeie saak en benut die geleenthede wat na jou kant toe kom.
* Reën, bewolkte weer en wind kan mooi foto’s maak – so vra jou fotograaf om die beste van die weersomstandighede te maak en speel saam. Die resultaat kan jou dalk net verstom.
* Vra jou DJ om die ys te breek deur ’n paar liedjies te speel wat die dag se weer weerspieël. Liedjies soos It’s Raining Men, The Heat Is On, Burn For You, Aleen-leen-leen, Kaalvoet in die Reën of Sunshine on a Rainy Day sal beslis jou gaste laat glimlag.
* Maak seker dat jy vir jou gaste laat weet wat die omstandighede rondom julle troue is, sodat hulle die regte klere, skoene en bykomstighede kan saambring om die dag ten volle te geniet – ten spyte van die weer.
Die weer kan nogal ’n lekker ysbreker wees en jou gaste iets anders gee om oor te gesels as ander mense se uitrustings, die dekor en die kos… so dalk is dit ’n goeie ding, want jy weet mos wat hulle sê: “Reën is ’n gelukbringer op jou troudag!”
Foto: Glover Mansion

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA