Wen Chereé Strydom se nuwe album deur hierdie eenvoudige stappe op sosiale media te volg. Lees die artikel vir meer inligting.

Nadat sy vir amper tien jaar tjoepstil was, is Suid-Afrika se goue Country-ster, Chereé, uiteindelik terug met haar langverwagte album, Wilde Waters, wat nie net die wag werd was nie, maar ook beloof om haar vorige suksesse te oortref. Jy kan een van hierdie mooi albums wen!

Die album het pas die rak getref en die eerste enkelsnit, Praat, kan reeds op talle radiostasies landswyd gehoor word. Alhoewel Wilde Waters hoofsaaklik ’n Country-aanslag het, is daar verskeie popliedjies ingesluit om iets vir elke oor en smaak in te bied. Die album bestaan uit 13 snitte, wat deur die kunstenaar self, asook ander gesoute liedjieskrywers soos Rudi Claase, Vaughan Gardiner, Hugo Ludik, Michael Lindt, Tony Ridgway en Roux Cloete, geskep is.

Die album sluit verder ook ’n duet met haar man, Wynand Strydom, in. Die paartjie is in 2010 getroud. “‘Hierdie Hart van My’ is deur ’n goeie vriend, Tony Ridgway, geskryf. Dit beskryf presies hoe ons oor mekaar voel, want my hart sal altyd Wynand s’n wees. Ek dink ons aanhangers gaan mal wees daaroor.”  

Omdat dit ’n rukkie is sedert sy laas ’n album uitgebring het, is die sukses van hierdie een vir Chereé baie belangrik. “Ek het groot geword. Ek weet wat ek wil hê en ek wil hê dat my musiek dit moet weergee. So, ek het besluit dat ek self moes aanklank vind by elke liedjie op die album, want ek glo dat dit die enigste manier is om luisteraars se harte te wen.”

Oor die lang tydperk tussen hierdie album en die vorige een, sê Chereé: “Ek het tien jaar laas ’n album uitgebring. Ek wou eers my kinders grootmaak voordat ek verder op my loopbaan kon fokus. Die tyd is nou reg vir my om weer my hart en musiek met mense te begin deel.”

Die afgelope paar jaar, het sy nie net kinders grootgemaak nie, maar ook gebou aan haar huwelik met die bekende sanger, Wynand Strydom. Sy deel graag die wenke wat hulle verhouding sterk hou en hulle as ’n paartjie laat wen.

“- Dis belangrik dat jy self eers gelukkig is voordat jy iemand anders kan gelukkig maak. Die eerste stap sal wees om seker te maak dat jy jouself ken en gelukkig is in jou eie vel.
– Kommunikasie is definitief belangrik – praat oor alles (goed en sleg) en werk aan die dinge wat pla in julle verhouding.
– Spandeer tyd saam, al is daar kinders en vriende. Alleentyd saam is kosbaar!
– Ontdek mekaar se gemeenskaplike belangstellings. Alhoewel mense verskil, moet jy weet waarvan jou maat hou en iets kry wat julle altwee saam sal geniet.
– Respekteer mekaar ten alle tye. Kies jou woorde mooi – woorde kan nie teruggevat word nie en maak seer so moet nooit iets sê waaroor jy later spyt sal wees nie.
– Waardeer die klein goedjies. Moenie bang wees om te sê hoe lief julle vir mekaar is nie en maak tyd vir soentjies voor slaap- en opstaantyd.
– Moet nooit kwaad gaan slaap nie.”

Chereé tree al professioneel op sedert sy nege is en het haar debuut-album op die ouderdom van negentien opgeneem. “My ouers het my talent op ’n jong ouderdom ontdek. Dit beteken dat ek vir dertig jaar in die musiekbedryf werk,” vertel sy. “Musiek was nog altyd ’n belangrike deel van my lewe. Ek vind vetroosting en geluk daarin. Ek is dankbaar vir die mense wat, oor die jare, my gehelp het en in my geglo het. As daar nou een les is wat ek geleer het, is dat jy nooit moet opgee nie.”

’n Musiekloopbaan wat oor drie dekades strek, sluit natuurlik baie hoogtepunte in en Chereé lys die oomblikke wat vir haar uitstaan soos volg: Die huldeblykvertoning wat sy vir Carike Keuzenkamp gedoen het by die SAMA-toekenningseremonie in 2010 – waartydens Carike by haar aangesluit het op die verhoog; ’n duet met Toni Wille van die groep Pussycat by Aardklop; en om Albert Hammond se vertoning te kon open by Aardklop.

Wilde Waters is die perfekte versamelstuk vir enige musiekliefhebber se versameling en is vol liedjies wat elke troue sal aanvul op die dansvloer.

OM DIE ALBUM TE WEN:
*Like en deel die inskrywing op Facebook;
*Like Chereé en Starburst Promotions se Facebookblad;
*Tik een van Chereé se verhoudingswenke in die kommentaarblokkie; en
*Stuur ’n e-pos met jou inligting en skermgrepe van bogenoemde na annelien@bpwpprebuild.co.za met #WildeWatersKomp in die onderwerpreël en ons sal julle teen 15 Julie laat weet wie wen.

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA