troukoors_wen_n_len_muller_cd
Len Muller se CD, Doodgewone Avontuur, is ’n vars mengsel van nuwe klanke en hartroerende melodieë. Een gelukkige leser kan hierdie CD wen. Lees verder om uit te vind hoe.

ERWS-BANNER-20-96x14

————————————————————————————-

Len Muller se liedjie, Smag na Jou, was nie net van die begin af ’n reuse treffer nie, maar is ook gekies as die klankbaan vir die Afrikaanse fliek, Strikdas, en sedertdien het hierdie besonderse musikant nog nooit teruggekyk nie en vandag het hy geen bekendstelling nodig onder gehore en luisteraars regoor die land nie.

Len kom oorspronklik van Richardsbaai af en was die voorsanger van die alternatiewe rock-groep, DieFoute, voordat hy in 2011 besluit het om ’n solo-loopbaan te probeer. Daarvoor het hy die sand en see verruil vir die stadsliggies in Pretoria en het hy baie hard gewerk om se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, uit te bring. Laasgenoemde is in 2015 uitgereik en is baie goed ontvang deur radiostasies en die publiek.

Daar is tien splinternuwe liedjies wat vars, uitdagend en eie aan Len se skryfstyl is. Medeskrywers sluit die befaamde Stef Bos, Retief Burger (Luidkeels), Bouwer Bosch (Straatligkinders en Dans Dans Lisa), asook Jattie de Beer (Vertikaal en Dou Voor Dag) in. Die uniekheid van die nuwe album kan ook toegeskryf word aan die insluiting van verskeie ander kunstenaars (Stef Bos, Joshua na die Reën en Janie Bay) wat saam met Len op van die liedjies sing. Oor die jare het Len ook al die verhoog gedeel met bekende kunstenaars soos Jan Blohm, Die Straatligkinders, Dans Dans Lisa, Kaleidoskoop en Joshua na die Reën.

Len het in ’n onderhoud gesê: “My lirieke is baie persoonlik, diep en eerlik. Dit kom byna netso uit my persoonlike joernaal. Ek wil graag hoop in mense se lewens insing en dié bemoedig wat deur swaar tye gaan. Ek is moeg vir veral Afrikaanse musiek sonder enige emosie. Ek glo ek het meer om oor te sing as net geld, meisies en goeie tye. Die mooiste liedjies vir my is die hartseer liedjies; want moeilike tye is ook deel van die lewe waardeur ons almal gaan”. Dit is juis die eerlikheid en broosheid van sy musiek wat hom so gewild maak en daar wag voorwaar nog ’n blink toekoms op hierdie talentvolle jongman.

Doodgewone Avontuur is die perfekte CD om met ’n glas rooiwyn om die kaggelvuur te geniet saam met jou geliefde op ’n koue wintersaand. Dit is ’n liefdesalbum soos min en van die treffers kraai reeds koning op verloofdes se trouspeellysies. Beslis die moeite werd om in te belê.

WEN!
Een gelukkige leser staan ’n kans om Len Muller se CD, Doodgewone Avontuur, te wen. Al wat jy hoef te doen om in aanmerking te kom, is om die inskrywing te LIKE en SHARE en ook Len se Facebook-blad te gaan LIKE.

————————————————————————————-

Kliek hier om Troukoors se glanstydskrif en/of Die Trouboek te bestel en spaar!

Troukoors

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA