Twee gelukkige lesers kan elk Sunel se nuwe album, Symptome, wen! Lees hier onder hoe jy kan inskryf en watter raad sy oor verhoudings het.

Sunel is ’n sanger en musikant van Mosselbaai in die Weskaap. Die kunstenaar is veral bekend vir haar treffende debuut-enkelsnit, Fikcle Heart, wat vir nege weke nommer een was op SFM se Top 30 en vir dertien weke bo-aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio, se trefferleer gekuier het.

Sy het onlangs haar eerste album, Symptome, uitgereik wat ook die een is wat lesers hierdie maand kan wen. Die album is ’n mengelmoes van elf pragtige snitte, in verskeie musiekgenres, wat daarop gemik is om aanklank te vind by ’n groter gehoor. Tien van die liedjies is kraakvars oorspronklike snitte uit haar eie pen, waarvan party met die hulp van Hugo Ludik, Vaughan Gardiner en Darryl De Lange getoonset en vervaardig is. Haar treffende weergawe van Sonja Herholdt se Ek Verlang Na Jou vul die laaste plek op dié hoendervleismooi vrystelling.

“Symptome is ’n woord wat ek geskep het. Ek wou ’n titel vir die album hê waarmee beide Afrikaanse en Engelse luisteraars kan vereenselwig. Toe besluit ek om simptome en symptoms te meng en my eie weergawe te maak daarvan,” vertel Sunel. “Ek wou ’n tema skep wat regdeur die album vloei en alles saambind. ‘Symptome’ van liefde, seerkry, geluk, verliefwees, emosies en die lewe self en so ’n dieper betekenis na vore bring.”

Die kunstenaar se nuutste enkelsnit, Die Waarheid Maak Seer, is pas vrygestel en kan reeds op radiostasies gehoor word. “Die Waarheid Maak seer is daardie liedjie wat jy moet luister as jy jouself in enige verhouding bevind waarin jy besef het dat die beloftes wat aan jou gemaak is en die kanse wat jy vir die ander persoon gegee het, nutteloos is. Jammer kan ongelukkig nie altyd alles regmaak nie,” verklap sy oor die betekenis agter haar derde Afrikaanse vrystelling, wat reeds besig is om musiekharte te verower.

Volgens die sangeres kan die nuutste enkelsnit, uit haar eie pen, beskryf word as ’n goedvoel-liedjie met ’n sterk boodskap waarby almal sal aanklank vind. “Soms is dit moeilik om die waarheid oor iets of iemand te aanvaar, omdat dit so seer maak. Partykeer weet ons nie waar om die streep te trek en te besluit dat dit nou genoeg is nie. Dit is die punt wat jy bereik waar jy jouself in die proses verloor,” verduidelik sy. “Alhoewel dit te doen het met emosionele uitbuiting, gee ek dit glad nie weer as ’n donker of droewige liedjie nie, maar eerder as ’n positiewe bemoediging dat jy ná die seer sterker aan die anderkant sal uitkom.”

Hart Op Jou Mou, haar vorige enkelsnitvrystelling, is baie goed ontvang. Dit is ’n romantiese liedjie wat daaroor gaan om iemand so lief te hê dat daardie persoon in alle aspekte jou hart op hulle mou dra. Hart se Wens, wat ook op haar album beskikbaar is, was vir verskeie weke nommer een op SFM se Top 30-treffersparade. Die musiekvideo is ook tans op kykNET te sien.

Die sangeres, wat gereeld oor die liefde sing, is natuurlik self ook in ’n romantiese verhouding betrokke en meen dat daar ’n paar goedjies is wat dié paartjie doen om die lewe in die kollig, want soms baie bedrywig kan raak, te wen.

“Ek dink die belangrikste ding is altyd om te prioritiseer. Daar is tyd wat jy moet bestee aan jou loopbaan, maar ek dink ook as jy jou persoonlike lewe gaan afskeep gaan dit jou loopbaan negatief affekteer. Jy moet ’n goeie balans hê en dit help as jy iemand in jou lewe het wat nie net jou ondersteun in jou loopbaan nie, maar wat ook volwasse genoeg is en gaan verstaan dat daar tye gaan wees wat jy besig is en mekaar nie gaan sien nie,” sê sy.

Volgens haar is die beste verhoudingsraad wat sy al gekry het, dat jy jou maat 100% moet vertrou. “Om lief te wees vir mekaar is baie belangrik, maar as daar nie vertroue in n verhouding is nie, is daar niks. Respekteer ook mekaar teen volle.”

As jy haar vra hoe haar perfekte romantiese aandjie saam met haar geliefde lyk, sê sy dat sy nie een is vir spoggerige afsprake nie. “Ek wil gemaklik wees en myself kan geniet. My idee van n perfekte afspraak sal wees om iewers by ’n restaurant naby die see iets te gaan eet en na die tyd te gaan wandel op die strand en net mekaar se geselskap te geniet.”

OM SUNEL SE NUWE ALBUM TE WEN:
*Like en deel die inskrywing op Facebook;
*Like Sunel en Starburst Promosies se blaaie;
*Vertel in die kommentaarblokkie hoe lyk jou ideale romantiese afspraak; en
*Stuur jou besonderhede en skermgrepe van die stappe na annelien@bpwpprebuild.co.za met #SunelKomp in die onderwerpreël.

Wenners sal einde September aangekondig word.

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA