wenke vir bruide wat in die somer trou
Die winter is skaar hier en die somersklere word alweer uitgepak. Bruide wat in die somer trou, moet ook seker maak dat hulle gereed is vir ’n warm troudag.

Geen bruid se droom is om sweterig en met grimering wat loop voor die preekstoel te staan nie. Daarom moet bruide wat in die somer trou seker maak dat hitte-skade so min as moontlik is op die dag.

Mia van Mia’s Make-Up gee wenke hoe om voor te berei vir jou groot dag wat in die somer is:

      1. Dit is baie belangrik om genoeg slaap en rus in te kry die aand voor jou troudag. Jou troudag verg baie energie en vrolikheid, daarom is jou skoonheidslaap belangrik. Indien jy een van daardie bruide is wat alles self doen, maak seker dat alles vroegtydig gereël is en sodat jy nie tot ounag toe nog dingetjies knip en plak nie.
      2. Maak seker dat jy op die dag voor en van jou troue genoeg water drink. Dit sal voorkom dat daar enige hitte-uitputting of dehidrasie is. Dit sal jou vel sommer ook baie gesonder laat vertoon.
      3. Gedurende die winter is ons te lui, of kry ons te koud om gereeld lyfroom aan te smeer. As jy in die lente of somer gaan trou, is dit belangrik om teen die middel van winter reeds gereeld te begin lyfroom aansmeer, veral aan die dele wat gaan uitsteek op jou troudag.
      4. Om seker te maak dat jou grimering die heeldag aanbly op jou troudag, is dit belangrik dat daar lugverkoeling in die kamer is en dat jy, wanneer jy klaar gegrimeer is, rustig sal wees in die kamer en nie rondhardloop om laasteminuut dinge klaar te kry nie.
      5. Baie bruide dink omdat hulle in die somer trou, dit nodig is vir ’n upstyle – maar dit is nie noodwendig nodig nie. Kies ’n haarstyl wat by jou pas en waarmee jy gelukkig is. As jy gemaklik is sal jy minder warm kry, want sodra jy ongemaklik is begin jy stres en raak jou liggaam outomaties warmer.
      6. Tydens die fotosessie gaan jy baie loop en beweeg, so maak seker dat daar altyd water byderhand is.
      7. Sommige mense is meer geneig om in sweet uit te slaan as ander. As jy maklik sweet, is dit ’n goeie idee om ’n sakdoek of snesie by jou te hou. Jy gaan gereeld met mense te doen kry, so jy wil eerder seker maak dat daar geen sweet op jou gesig of lyf is nie.
      8. Maak seker dat jy ten minste tien dae voor jou troue die son begin vermy, sodat jy nie lelike sonbrandlyne kry of lyk soos ’n tamatie wat afdop op jou mooiste dag nie. Hierdie wenke mag dalk so eenvoudig klink, maar dis juis wat die verskil gaan maak wanneer jy in die somer voor die kansel staan.As grimeerkunstenaar kry ek baie te doen met bruide wat op warm somerdae trou en glo my, hierdie raad kom handig te pas.Foto: Verstyle Fashion

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA