wittebrood
Die Wittebrood is een van die dinge waarna die paartjie die meeste uitsien. Maar voor jy oorhaastig besprekings maak, hou eers ’n paar dinge in gedagte.

————————————————————————————

Kliek hier om Troukoors te volg op Instagram.

follow_on_instagram————————————————————————————

Niemand wil teëspoed hê gedurende hierdie spesiale vakansie nie, daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy aan alles dink voordat julle op die wittebrood vertrek. Gina van Staden meen dat jy hierdie ses dinge in gedagte moet hou wanneer jy wittebrood beplan.

DIE WEER
As julle byvoorbeeld in Desember trou, moet jy seker maak dat die wittebrood bestemming se weer ooreenstem met dít wat jy verwag. Dit klink logies, maar soms doen pare nie genoeg navorsing daaroor nie.

REISSIEKTE
Reissiekte kan ’n wittebrood vinnig bederf, so hou vir julle ʾn noodpakkie met reissiektablette, droë soutbeskuitjies en gaskoeldrank byderhand. As julle op ’n bootrit gaan kan julle al voor die tyd die pilletjes begin drink. Maar reissiekte is nie beperk tot die see nie – ’n mens kan dit kry in die kar, trein en vliegtuig ook.

HITTEUITPUTTING
Maak seker dat julle teen die son en hitte beskerm word tydens die wittebrood – klimaatsverandering kan ’n mens onkant betrap. Die tekens van hitte uitputting sluit in:
*Moegheid/duiseligheid
*Naarheid
*Oormatige sweet
*Lae bloeddruk
*Vinnige/stadige hartklop
*Laegraadse koors
*Krampe, kopseer, uitputting
*Donker urine

As jy vermoed dat jy hieraan ly, bly in ’n koel plek en drink yswater. As die simptome vererger, floutes of verwardheid kop uitsteek, kry dadelik mediese hulp.

WITTEBROOD SISTITIS
Dit klink intimiderend, maar sistitis is wanneer infeksie (meer algemeen in die blaas) voorkom na seks, wanneer bakterieë in die urienkanaal beland. Die toestand is baie meer algemeen onder vroue wat vir die eerste keer (of lanklaas) seksueel aktief is. Voorkom dit so:
*Drink baie water
*Maak seker jy gaan vir gereelde toiletbreke
*Vermy sitrus en drink eerder bosbessiesap (cranberry)
*Maak jou blaas voor, en direk na, seks leeg

VREEMDE LANDE
Wanneer jy gaan wittebrood hou in ’n vreemde land, is jy verplig om hulle wette te onderhou. Sommige wette kan ’n mens verbaas, maar as jy dit verontagsaam kan jy agter tralies beland. In die Karibiese eilande kan jy gewapende wagte by die lughawe verwag omdat daar so baie dwelmverwante misdaad is. In Jamaica is dagga ook nie verbode nie, so moenie verbaas wees as ’n local dit aan jou probeer verkoop nie. ’n Ferm “nee, dankie” is goed genoeg. Hou altyd jou reisdokumente by jou en maak kopieë om by familielede te los in geval van nood. Reisagente raai toeriste ook aan om nie met groot bedrae kontant rond te loop nie.

Goeie navorsing sal sorg dat julle wittebrood een van die beste tye in jul getroude lewe is. Maak net seker dat jy al die boksies hierbo afmerk.

Foto: Huffington Post

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA