aantrek-idees vir ma van die bruid
Almal wil graag mooi en spesiaal lyk op ’n geleentheid, veral die ma van die bruid en bruidegom. Liza de Jager van Bella Vestito gee raad oor watter uitrusting mooi sal lyk by watter tipe ma.

Weg is die dae waar jy, as die bruid of bruidegom se ma, by die troue opdaag in ’n broekpakkie wat gemaak is van krimpeleen. Ja, jy is ’n ouer dame en jou figuur is anders as toe jy twintig jaar oud was. Maar nee, nee, nee, vir die tweestukpakkie wat jou nog tien jaar ouer en vyftien kilogram swaarder laat lyk.

Jy is nogsteeds ’n elegante, asemrowende vrou en dit is tyd dat almal dit raaksien, jy ook! Jy kan stylvol lyk, en indien jy die regte uitrusting kies, sal jy as vrou weer voel soos die godin wat jy is!

Kom ons kyk na ’n paar verskillende opsies wat beskikbaar is vir die ma’s daar buite…

BENE IS MY BATE

aantrek idees vir die bruid se ma

Indien jy weet dat jou bene een van jou beste einskappe is, is dit ’n goeie idee om vir ’n korter rok te gaan. Sodoende trek jy die aandag na jou bene toe, en lei jy die aandag af van enige ander deel van jou lyf waarmee jy dalk minder gemaklik voel.

BEDEK MY ARMS

aantrek idees vir die bruid se ma 2

Indien jy, soos baie van ons ouer dames, voel dat jou bo-arms lyk soos ’n kalkoen se ken klokke hang, is dit belangrik om te gaan vir iets wat jou arms sal bedek en jou dus op jou gemak sal laat voel.

DIE MAMMA-MAGIE

aantrek idees vir die bruid se ma 3

Elke ma weet dat sodra jy eers ’n kind gehad het, is jou maag nooit weer dieselfde nie. Indien jy voel jy moet die kangaroo-sakkie weg steek, is ’n rok met plooitjies by die maag die perfekte keuse. Dit bedek enige vetjies, en laat jou twee groottes kleiner lyk. ’n Vloeiende rok, wat uitklok net bo die middel, is ook ’n baie gepaste styl vir hierdie doel.

DIE ELEGANTE SWARTNOMMERTJIE

aantrek idees vir die bruid se ma 4

Party bruide wil hê dat die ma’s dieselfde kleur moet aantrek as die troue se kleurskema en ander laat die keuse aan die ma’s oor. Ons dink partykeer dat swart heeltemal taboe is wanneer dit by ’n troue kom, maar dit is nie. Swart lyk altyd elegant, stylvol en tydloos. Swart vlei ook die meeste mense en is ook baie verslankend. As jy dus voel dat ’n swartnommertjie wil dra, maak so.

As ma van die bruid of bruidegom vorm jy ook ’n spesiale deel van hierdie groot dag in jou kind se lewe, so dit is belangrik om op jou beste te lyk – sonder om dit te laat lyk asof jy die bruid se kollig wil steel. So kies iets elegant, wat jou figuur vlei en jou dogter of skoondogter met trots na jou sal laat kyk.

Artikel deur Liza de Jager van Bella Vestito
Foto’s: VM-versameling van Morilee

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA