’n Beperkte troue met nie meer as ’n 100 gaste nie was Carli en Pierré se enigste opsie sou hulle besluit om voort te gaan met hulle troudag, as gevolg van die Covid-19 virus. Hulle het besluit om hulle gaste te beperk, sodat hulle, hulle onbeperkte liefde vir mekaar met ’n troue kon vier.
 

Pierré en Carli wou nie hulle troue uitstel as gevolg van die wêreldwye pandemie nie en het voortgegaan met hulle groot dag – beperkings en al. An-Sophie Jonker vertel ons meer hieroor.

ONS STORIE…

“Op 7 Mei 2019 het ek en Pierré ontmoet. Ons vriende, Gideon en Marion, se dogtertjie was in my klas in die kleuterskool en hulle wou graag Juffrou Carli aan Pierré voorstel. Hulle nooi my toe saam vir ’n naweek op Pierré-hulle se plaas. Aanvanklik het ek en Pierré nie juis gesels nie, want hy is vier jaar jonger as ek, hoekom sal ek nou saam met ’n jongman wil kuier? Na die naweek het hy my verkeerd bewys. Sy sagte hart en blou oë wat diep in myne gekyk het, het my hart gesteel. Ek het geweet hy is die een waarvoor ek so lank gebid het. ’n Maand na ons ontmoeting het ek by Pierré se ouerhuis ingetrek. Ek het ’n kind geword in my skoonouers se huis.”

DIE VERLOWING…

“Op 8 Augustus 2019 het Pierré in die geheim saam met sy hele gesin ons verlowing beplan en alles reggekry. Hulle het my buite na die tuin toe gelok. Toe ek buite kom kon ek nie glo hoe mooi die tuin lyk met die baie liggies in die bome nie. Ek het hom nie eers gesien op sy knieë voor my nie. Al wat ek kan onthou is dat ek geskrik het en gevra het wat doen hy. Hy kon skaars klaar praat toe ek al begin antwoord: ‘Ja, ja, ja, staan op my liefie’.”

DIE TROUE

“Ons het voor ons verloof geraak het al die venue, waarvan ons baie gehou het, bespreek en ’n datum vasgemaak. Ek het op Pinterest foto’s en idees gekry en ons het besluit om Burgundy saam met donkerrooi en Proteas ons kleurskema en tema te maak. Dit het die warm, liefdevolle atmosfeer van die dag so goed gekomplementeer. Nie eers die feit dat dit begin rëen het of dat die krag op ’n stadium af was, kon ons spesiale dag bederf nie. Ons troue was in die tyd toe ons president aangekondig het dat daar nie meer as ’n 100 gaste by enige byeenkoms mag wees nie as gevolg van die Covid-19 virus. Die Vrydag moes ons besluit, stel ons uit of vra ons ’n paar gaste om nie meer te kom nie. My hart was baie seer. Die dag voor ons troue was die eerste keer wat ek gevoel het nou móét ek huil. Ek, Pierré en my skoonma het maar besluit om paar mense te kontak om te hoor of hulle kinders nie tuis kan bly nie en later moes ons maar gaste in kennis stel dat hulle nie meer kan kom nie as gevolg van die nuwe wetgewing.”

DOEN-DIT-SELF

WAS DAAR ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS OP JULLE TROUE?

“Ons was baie bevoorreg en het niks self gemaak nie.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

  • “Haal asem. Wees rustig in die hele beplanningsproses. Weet dat alle probleme kan opgelos of hanteer word.
  • Vra vir raad as jy nie weet nie.
  • Onthou dit is jou en jou man se dag.
  • Het jy nie idees nie? Pinterest!
  • Begin deur eers vir jou ’n venue te bespreek, iemand te kry wat die musiek en klank kan doen, ’n fotograaf en ’n pastoor of dominee om julle te trou.
  • Iets wat ek nooit aan gedink het nie was die troukontrak. Onthou om die huweliksvoorwaardekontrak te onderteken, ons het dit twee maande vooraf gedoen.
  • Die beste raad wat ek kan gee in alles opgesom is: Vra jou Skepper elke dag om jou te help sodat jy die regte besluite sal neem en dat Hy jou sal rustig hou in die tyd.
  • Geniet dit, dit is so vinnig en dan is alles verby!”

WAS DAAR ENIGE DIENSVERSKAFFERS WAT JULLE DAG EKSTRA SPESIAAL GEMAAK HET?

“Ons foto’s is pragtig! Ek beveel aan dat toekomstige bruidspare vir hulleself ook die beste fotograwe en videograwe vir hul troudag kry. Maak gerus van Grant Photography SA gebruik. Hulle is die mooiste mense en lewer ’n puik diens van hoë gehalte.”

Beperkings wat ingestel is as gevolg van die Covid-19 virus het nie in die pad gestaan van Carli en Pierré se troue nie. Hulle het net hulle gaste beperk en nogsteeds met burgundy en proteas hulle mooiste dag gevier. Hierdie dag sal hulle altyd herinner dat hulle liefde vir mekaar onbeperkte grense ken.

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, spyseniering, drankies en dekor: La Rouge Gasteplaas / Guest Farm
Troukoek: Sanel Jansen- Krulle & Koeke
Skrybehoeftes: GAP Graphix and Prints en Geskenke uit die hart-Laser cutting
Fotograaf en videograaf: Grant Photography SA
Trourok: Bridal Emporium Bloemfontein
Hare en grimering: Salon Verry Unique

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA