ʼn Boeretroue, met ’n jolige atmosfeer in ʼn beeldskone klipskuur, met geurige kos en musiek wat die voete laat juk was die wenbestanddele van Sors en Emmerenchia Snyman se spesiale dag.

Natuurlik en stylvol was wat die bruidspaar wou hê vir hulle mooiste dag en dis wat hulle reggekry het. An-Sophie Lourens het meer gaan uitvind oor die beplanning agter dié boeretroue.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“Om ʼn gesellige braaivleisvuurtjie by vriende se huis het ek dadelik geweet ek wil met dié sprankelende jong boer trou. Na ʼn maand het ons begin uitgaan en ses jaar later is ons boeretroue gehou.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
Emmerenchia: “Sors is ʼn man van God. Hy is ongelooflik eerlik in alle opsigte en ek weet altyd waar ek met hom staan.”
Sors: “Emmerenchia is ook ʼn vrou na aan God se hart. Sy is een van die nederigste persone wat ek ken, met die mooiste glimlag en altyd reg om mense te onhaal. Elke man hou mos van braai en het ʼn vrou nodig wat sorg vir die res.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Op die vierde bof van Highland Gate-gholflandgoed in Dullstroom het Sors my verras met die woorde: “Trou met my?” op ʼn gholfballetjie. Dit was verskriklik romanties omdat gholf een van sy grootste stokperdjies is. Na sewe maande is ons getroud. As mens weet wat jy wil hê kan jy ʼn boeretroue in ʼn japtrap reël.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING EN KLEURSKEMA VAN JULLE BOERETROUE?
“As jy eers ʼn venue en ʼn datum het val die res van die beplanning in plek. Liezel van Affordable Décor & Function het ons gehelp met al die beplanning, dekor en blomme. Ons kleurskema was salie, roosgoud, goud, ʼn tikkie room en rouhout. Dit was vir my ʼn baie natuurlike skema wat die klipskuur by Florence mooi gekomplementeer het. Ons wou vir ʼn natuurlike voorkoms gaan, maar wat steeds stylvol is.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Ons wou ʼn regte boeretroue hê met lekker musiek en kos waar gaste net hulleself kon geniet.”

BESKRYF JULLE BOERETROUE?
“Dit was enige bruidspaar se droom. Soveel liefde, omgee en opgewondenheid van elke gas en elke detail in plek. Ek sou oor en oor wou trou as ek kon, maar natuurlik met dieselfde man en mense wat my gehelp het.”

RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE?
• Geniet elke oomblik.
• Dink ʼn bietjie uit die boks. Wees kreatief met jou troue. Dis soos ʼn skilderdoek wat jy self kan inkleur. Skep nuwe tendense en waag.
• Kry mense wat bereid is om saam met jou te beplan en hard te werk vir julle pragtige sprokiesverhaal.
• Moenie vaskyk in sekere elemente nie, die geheelbeeld is wat saakmaak.
• Hou dankiegeskenkies klein en eenvoudig as jy iewers wil spaar. Die mense kuier so lekker en vergeet dit soms op die tafel. Ietsie soets werk altyd lekker, almal het ʼn soettand.

WAS DAAR ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS OP JULLE BOERETROUE?
“Ons voorman op die plaas het van die dekor gemaak. Al die roosgoudkandelare, die houtrame uit die dak, tafelaanwysingsramme en die houtbokse en houttafellopers is deur ʼn vriendin vir ons gemaak. Ek sal aanraai dat bruide eerder huur as hulle op ʼn klein begroting werk as om als self te maak, maar ons wou sekere dekor hê wat ons net nie gehuur kon kry nie.”

Emmerenchia en haar sprankelende boer het met baie voorbereiding en bereidwillige, helpende hande dit reggekry om ʼn heerlike boeretroue te reël. Die dekor was natuurlik en stylvol en het saam met die atmosfeer van die gaste gesorg vir ʼn pragtige boere-bruilofsfees!

 

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering en drankies: Florence Guest Farm & Wedding Venue
Dekor en blomme: Affordable Décor & Functions
Kerse: Lavender Moods Candles
Houtonderborde: Love Beloved
Roosgoud- en goue dekor: You and Me
Tafeldoeke: Tablecloth Company
Troukoek: Edeline Stucky
Fotograaf: Dust and Dream Photography
Videograaf: Bamba Pictures
Musiek: Raymond van Raytrice
Trourok: Timeless Bridal Couture
Hare: Salon Chamon @Mandi Kruger
Grimering: Salon Elaine @Elaine Bezuidenhout
Bruidegom se uitrusting: Edgars

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA