’n Gestileerde fotosessie was die begin van Jaco en Melissa se paadjie kansel toe, omdat dit toe al die tyd foto’s vir ’n regte verlowing was. An-Sophie Jonker vertel meer.

ʼn Sogenaamde gestileerde fotosessie het alles werklik geword toe Melissa en Jaco Roodt, wat net modelle moes wees, werklik verloof geraak het. Melissa het van jongs af haar troudag beplan, nog voor sy geweet het met wie sy gaan trou.

Ons storie…
“Ons het tydens ʼn selbyeenkoms van die kerk ontmoet. My broer en ʼn wedersydse vriend het ons aanmekaar voorgestel. Ek het verlief geraak op sy sterk persoonlikheid, sy teenwoordigheid en sy sin vir humor. Hy het verlief geraak op my sagtheid, goedhartigheid en my glimlag. Na ons derde ontmoeting was ons smoorlief en het geweet dat ons vir mekaar bedoel is en die res van ons lewens saam met mekaar wil spandeer.”

Ons verlowing…
“Jaco se boetie is ʼn fotograaf, so hy het my en Jaco gevra om die modelle te wees vir ’n gestileerde fotosessie. Dit het toe uitgedraai om glad nie gestileerd te wees nie. Dit was toe al die tyd ons eie verlowingsfotosessie. Jaco het dit alles beplan en my gevra om te trou. Ons was vir 11 maande verloof gewees.”

Ons troue…
“Van jongs af het ek geweet wat ek wou hê. My troue was heeltemal beplan voor ek eers geweet het met wie ek gaan trou! Ek wou graag my rok deur Kobus Rautenbach laat maak het, wat ʼn rukkie neem, want hy is baie gewild. Ons het venues gaan soek en het dadelik verlief geraak op Mellow Stream. Ons kleurskema was burgundy, blospienk en roosgoud. Ons het nie ʼn tema gehad nie. Ons wou graag hê al die gaste moes die feesviering en kos saam met ons geniet. Ons het nie ʼn stywe troue gehad nie, net lekker en genotvol, maar nogsteeds stylvol. Op my troudag was my hart vol emosies. Die mees oorweldigendste gevoel was die opwinding. Ek wou by die paadjie af hardloop na Jaco toe! Dit was ʼn naweektroue en almal het dit terdeë geniet! Tydens die seremonie het ons mekaar se voete gewas as ʼn teken van ons respek, liefde en toewyding aan mekaar. Ek is so dankbaar dat die gestileerde fotosessie toe so uitgedraai het.”

HET JULLE ENIGIETS SELF GEDOEN?
“Ons dankiegeskenke moes met verf gesprei geword het met elke gas se naamkaartjie daarop. Ons het ook al ons skryfbehoeftes self gemaak. My hoofstrooimeisie het al my strooimeisies se hare gedoen.”

HET JY ENIGE RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“My raad aan bruide sal wees om nie na almal anders se opinies te luister nie. Mens wil almal gelukkig hou, maar dit is net jou en jou verloofde se spesiale dag. As jy geel wil hê, gaan vir geel! Eet die kos by jou troue of vra die koördineerder om vir julle uit te hou as die opwinding te veel is! Neem elke detail en oomblik in en as jy nie tyd het om by elke gas uit te kom nie is dit nie die einde van die wêreld nie!”

WATTER DIENSVERSKAFFERS HET JULLE DAG EKSTRA SPESIAAL GEMAAK?
“Ek wil graag Fransien Myburg aanbeveel, die eienaar van Mellow Stream Wedding Venue. Sy is baie georganiseerd en verpersoonlik alles vir jou! Sy is so passievol oor haar werk! Dankie Fransien, ons dag sou nie so spesiaal gewees het sonder jou nie! Susan van Biljon van The Flower and Wedding Yard, het al ons verhurings, dekor en blomme gedoen. Ek hoef nie te bekommer het oor enigiets nie, alles was presies soos ek dit wou gehad het!”

Wat begin het met ʼn gestileerde fotosessie, het uitgedraai in die mooiste troue waarvoor die paartjie ooit kon hoop.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Mellow Stream Wedding Venue
Koördineerder: Fransien Myburg
Spyseniering en drankies: Mellow Stream Wedding Venue
Blomme en dekor: The Flower and Wedding Yard
Troukoek: Classiek
Fotograaf: Leandri Marx Photography
Videograaf: First Kiss
Musiek: Johan du Bruto
Trourok: Kobus Rautenbach Couture
Hare: Carla Classen
Grimering: The Make up Effect
Bruidegom se uitrusting: Markham
Vervoer: Mellow Stream Wedding Venue

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA