Baie bruide droom van ’n Kersfeestroue en dit was ook die inspirasie agter hierdie gestileerde fotosessie by Duck Point Venue.

Duck Point Venue se geliefde troukoördineerder, Jean Prieur du Plessis, wou graag die jaar op ’n hoë en mooi noot afsluit en het daarom besluit om hierdie spesiale fotosessie aanmekaar te slaan wat hope idees het vir ’n bruid wat graag ’n mooi Kersfeestroue wil hê.

Omdat Duck Point Venue in die Vaaldriehoek geleë is, was dit net gepas om vir Ané Oosthuysen– Mejuffrou Vaal 2019 – vir hierdie spesiale geleentheid te gebruik.

“Die Kersfeeskleure is steeds gepas vir ’n troue en het ’n baie luukse gevoel. Ek dink nie daar sal iets meer spesiaal wees as ’n pragtige skemertroue op Kersdag, baie kerse en jou familie om jou nie,” verklap Jean Prieur oor die idee agter die fotosessie.

DIE ROK
Die bekende Parys-ontwerper, Werner Dey, is genader om vir Ané aan te trek vir die kamma Kersfeestroue. Werner het die mees asemrowende skepping voorgestel en daar is dadelik besluit dat die goue ontwerp die rok is wat sy gaan dra. Die goud en die detail op die rok het ook elemente van die dekor inspireer.

DEKOR
Nadat Werner die rok voorgestel het, is daar besluit om die goud en die detail van die rok as inspirasie te gebruik vir die dekor. ’n Tradisionele Kersfeestafel, getooi in skakerings van goud, room, bruin en groen, met ’n feestilike maar luukse gevoel. Kerse is ook gebruik om dit ’n warm Kersfeesgevoel te gee.

SJAMPANJE
Wat is die somer en ’n Kersfees sonder sjampanje? Die perfekte sjampanje-mengeldrankie deur Ice Pops of selfs vrugte by gewone sjampanje, is perfek vir ’n Kersfeestroue.

KOS
’n Heerlike Kersspyskaart is spesiaal vir die shoonheidskonigin deur Chef Bosh voorberei en die voorgereg was beslis ’n wenner; geroosterde vye met bokkaas in parma-ham.

Natuurlik het Duck Point Venue se beeldskone natuurskoon ook bygedra om vir hierdie sessie die perfekte somer Kersfeestroue gevoel te gee.

Duck Point Venue en Troukoors wens elkeen ’n baie geseënde feestyd toe.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Duck Point Venue
Konsep en beplanning: Jean Prieur du Plessis
Fotograaf: Rolene van der Merwe / Rolene Photography
Rok: Werner Dey
Dekor: Christa van Wyk
Hare en Grimering: Belle Beauty by Jenine 
Spyseniering: Chef Bosch

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA