intieme-troue
’n Intieme troue in die buitelug was Edwin en Lee-Ann Grobbelaar se droom vir hul groot dag. Hulle naaste familie en vriende was teenwoordig en het hulle mooiste dag ekstra spesiaal gemaak.

intieme-troue_1
Minder is oor die algemeen meer. Daarom hou mense deesdae kleiner toues, met mooier dekor. Lee-Ann vertel ons meer van die intieme troue wat hulle beplan het op die belangrikste dag van hulle lewens.

HOE HET JULLE ONTMOET?
“Ons het vyf jaar gelede deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Edwin het my oor Facebook gevra of ek saam met hom wou uitgaan vir ete. Ek het eers getwyfel, maar toe my ma hom ontmoet, kon ek nie nee sê nie. Sy het geweet dat hy ‘die een’ is en ek is bly dat ek na haar geluister het!”

HOE HET JULLE GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL IS?
“Ons waardes en doelwitte is dieselfde en hoe meer tyd ons saam spandeer het, hoe meer het ons besef dat ons vir mekaar bedoel is.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Edwin het my vir ’n wegbreek na ’n wildsplaas toe gevat. Die Saterdagmiddag voor sonsondergang het hy vir ons ’n piekniek met kaasbord en goeie wyn gereël, en my daar gevra om met hom te trou. Ons was twee jaar lank verloof.”

intieme-troue_2

HOE HET JULLE JUL INTIEME TROUE BEPLAN?
“Ons het ses maande voor die troue eers begin beplan en het begin met die venue. Ons altwee is mal oor die bos, so Bordeaux Game Farm was perfek! Daarna het ons al die groot aspekte probeer afhandel – die uitnodigings, fotograaf, blomme, musiek, my rok, die strooimeisierokke, ens. Ons uitnodiging was in die vorm van ’n webtuiste omdat ons families wyd verspreid is. Dit was ook kostebesparend.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA?
“Ons het besluit op natuurlike kleure soos groen en sagte pienk, wat baie mooi vertoon het by die venue en perfek gepas het by die intieme troue wat ons wou skep.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“’n Ontspanne atmosfeer, wat pas by ’n intieme troue, was baie belangrik. Die eintlike troudag gaan so vinnig verby dat ons besluit het om die hele naweek daar te spandeer saam met ons gaste.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT ’N INTIEME TROUE BEPLAN?
“- Kies ’n venue wat die grootste deel van julle troubeplanning kan behartig, byvoorbeeld die kos, dekor ensovoots.
– Maak ’n lysie van als wat gedoen moet word en merk dit een vir een af.
– Geniet die hele proses en nie net die troudag nie.
– Moenie self alles probeer doen nie, want soms werk dit duurder uit.
– Nooi net die familielede en vriende wat baie vir julle beteken.”

Groot troues is nie altyd die in-ding nie en soms wil ’n bruid eerder ’n intieme troue hê. Met Lee-Ann se raad kan elke bruid haar perfekte dag geniet.

intieme-troue_3

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, drankies, troukoek, dekor: Bordeaux Game Farm
Bloemis: Lienkie Steinberg – Bunches at Home
Skryfbehoeftes: Lily Young
Fotograaf: Louzelle van Dyk
Musiek: Vivia Bezuidenhout
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare: Strooimeisies
Grimering: Missy make-up artist
Bruidegom se pak: River Island SA
Japonne: Ribbon King
Strooimeisierokke: The Maiden

Artikel: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA