Juwele kan jou voorkoms maak of breek op jou troudag. Liza de Jager het raad oor watter tipe juwele die beste sal werk vir die trourok wat jy kies.

Die doel van die bykomstighede wat jy op jou troudag kies, is om die prentjie wat jy in jou kop het mooi af te rond. Jou juwele moet jou trourok komplementeer en die spreekwoordelike kersie op die mooi versierde koek wees.

Ongelukkig kan jy nie sommer net enige juwele net aansit op jou groot dag en dink dit gaan werk nie. Want sekere tipe juwele gaan nie werk saam met sekere style rokke werk nie.

Hier is ’n paar wenke om in gedagte te hou wanneer jy jou juwele kies:

KLEUR VAN JOU TROUROK
As jou rok wit is, sal pêrels, platinum of silwer die beste vertoon. Goue juwele sal moontlik in te veel kontras wees met die rok. ’n Rok wat bietjie afwyk van wit, maar steeds baie lig is, sal goed werk saam met goud, silwer en pêrels. Ivoorkleurige trourokke lyk baie mooi saam met goue juwele.

DIE STYL VAN JOU ROK
Die styl van jou rok sal nogal ’n invloed hê op watter juwele jy gaan kies… of eintlik behoort te kies:

Moulose rok
Hierdie tipe rok is baie veelsydig en daarom sal verskillende tipes juwele mooi vertoon daarby, soos:
– Hangoorbelle sonder ’n hangertjie
– ’n Mooi hangertjie met bypassende oorkrabbertjies
– Diamant- of kristaloorbelle: As jy ’n bietjie kleur wil byvoeg kan jy kristal kies wat by jou troukleure pas.

V-nek
’n Dun hangertjie met ’n pendant sal baie elegant lyk by ’n V-nekrok. Mooi oorbelle met ’n bypassende choker sal ook baie mooi lyk by hierdie styl rok.

Halternek
Hierdie rok lyk oor die algemeen bietjie oordoen met enige vorm van ’n nekbehangsel. Los dit eerder heeltemal en kies mooi oorbelle, knippies of ’n kopband.

DETAIL OP JOU ROK
As jou rok baie eenvoudig is, kan jy groter juwele gebruik om dit bietjie op te kikker. Maar as jou rok so bostuk baie kralewerk of borduursel het, is dit beter om fyner stukke te kies, met oorbelle wat hang om die prentjie af te rond.

Op die ou einde van die dag bly dit nogsteeds ’n item wat gekies word volgens jou unieke smaak, en solank jy soos ’n prinses voel, sal jy ook soos ’n prinses lyk.

Foto: Thomas Laine

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA