kies die regte kleurskakering vir jou trourok
Jy het nog altyd gesien hoe jy die paadjie in ’n spierwit trourok gaan afstap, maar skielik wonder jy of winterwit, sjampanje of roomkleurig nie beter by jou sal pas nie. Juanri du Toit van Juanri Image Consultant & Fashion Designer het raad om die keuse makliker te maak.

Wat op aarde is die verskil tussen wit en winterwit, is wit dan nie net wit nie? Wel daar is honderde verskillende skakerings van wit, maar voor daar ’n ligte sweetjie op jou bolip uitslaan, het ons ’n kenner gaan vra om vir ons te verduidelik watter kleur die beste by jou sal pas.

DIE VERE MAAK DIE VOËL, OF IN DIE GEVAL DIE KLEUR…
Die heel belangrikste vir enige bruid is dat sy soos die mooiste vrou in die wêreld wil lyk en voel op haar groot dag. Ongelukkig kan selfs die pragtigste snit trourok jou soos ’n uitgewasde lap laat lyk wanneer jy op die verkeerde kleur besluit. As jy onseker voel, sal dit die beste wees om ’n voorkomskonsultant te gaan sien, sodat sy vir jou presies kan wys watter kleur die beste by jou velkleur pas. Gaan loer gerus op my webtuiste vir meer inligting.

Die regte skakering wit sal jou vel laat gloei, enige gelaatsprobleme soos pigmentasie, vlekke of plooie verdoesel, terwyl die verkeerde kleur jou siek, oud en moeg kan laat lyk en enige merke op jou vel meer sal laat uitstaan. Kom ons kyk na die die vier basiese kleure watter velkleur by elkeen pas.

SPIERWIT
Daar is baie min mense wat goed lyk in spierwit. Omdat die kleur so helder en vars is, kan die rok jou heeltemal laat verdwyn. Wanneer jy vir jouself in die spieël kyk moet jy eers vir jou en dan die rok raaksien. Spierwit lyk gewoonlik die beste by mense met donker gelaatstrekke. As jy ’n ligte vel en hare het, sal spierwit waarskynlik baie hard teen jou vel lyk.

kies die regte kleurskakering vir jou trourok 2

WINTERWIT EN PÊRELWIT
Dit is ’n sagter skakering van wit, nie spierwit nie, maar dit is ook nie room nie. As jy nie seker is of dit winterwit is nie, kan jy ’n wit papier teen dit hou en seker maak dat dit nie so wit soos die papier is nie. Die kleur lyk gewoonlik die beste by mense met ’n sagte wit vel met ’n pienk ondertoon.

kies die regte kleurskakering vir jou trourok 3

SJAMPANJE
Dit is letterlik die kleur van sjampanje. Die kleur gee ’n ryk, elegante, warm gevoel wat so bietjie glinster. Bruide wat ’n medium velkleur met ’n warm ondertoon het, sal pragtig lyk in die kleur.

kies die regte kleurskakering vir jou trourok 4

IVOOR OF ROOM
Hierdie kleur pas die beste by bruide met ’n ligte en warm velkleur, met hare wat ’n rooi ondertoon het. Die kleur het ’n definitiewe geel ondertoon, wat dit ’n warm en antieke voorkoms gee.

kies die regte kleurskakering vir jou trourok 5

GEKLEURDE TROUROK
Behalwe dat daar nog baie ander skakerings van wit beskikbaar is, is daar natuurlik die opsie om jou rok in ’n ander kleur te maak. Een van die grootste modetendense vir trourokke in 2015, is die kleur nude. Jy kan die kleur onder jou winterwit of room kant gebruik om diepte te gee en die illusie te skep dat jou vel onder die kant is. Jy kan ook kleure soos salmpienk, grys of ’n sandkleur onder jou kant gebruik om dit meer interessant te maak. As jy waaghalsig genoeg is, kan jy jou hele rok in ’n ander kleur maak.

kies die regte kleurskakering vir jou trourok 6

Daar is eindelose opsies van kleure en skakerings as dit by trourokke kom, so verander dalk daai prentjie van jou en kyk hoe die regte kleur jou laat blom, jou oë laat skitter en almal se asems wegslaan.

Artikel: Juanri du Toit
Foto: The Wellington Show

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA