’n Kousband is iets wat al vir geslagte lank deel is van troues. Maar hoe kies jy die perfekte een en is dit regtig iets wat nodig is?

Daar is baie tradisies wanneer dit by trou kom en die kousband is nogal ’n kontroversiële een, waarvan party paartjies hou en ander glad nie. Hier is ’n paar idees en wenke as julle wel hierdie tradisie gaan deel maak van julle troudag.

Wanneer die DJ begin om liedjies te speel soos Joe Cocker se You can leave your hat on of You Sexy Thing van Hot Chocolates begin speel, dan weet die gaste al hier kom ’n ding. Dis tyd vir een van die stoutste troutradisies – om die kousband gooi.

Hierdie gebruik het in die veertiende eeu in Engeland begin toe trougaste gedink het dat dit ’n teken van goeie geluk is om ’n stuk van die bruid se klere in die hande te kry op die paartjie se troudag. Dit kon nogal geweldadig raak omdat veral die manne geneig was om stukke van die bruid se rok af te skeur. Om die bruid dit te spaar, het die bruidegom toe begin om self die kousband te verwyder en dit vir die ekellopende manlike gaste te gooi.

Deesdae is dit darem ’n meer prettige en minder gewelddadige affêre en dit het amper iets soos ’n fashion statement geraak omdat bruide nogal kreatief raak wanneer dit by kousbande kom.

Maar hoe kies jy die perfekte een? Hou die volgende vier dinge in gedagte wanneer jy jou kuese maak:
1) Jou kousband moet jou persoonlike styl en persoonlikheid weerspieël;
2) Dit moet by jou kleurskema en tema pas;
3) Dit moet vir jou aanstaande man en gaste die regte boodskap stuur; en
4) Dit moet iets wees waarin jy gemaklik is en nie iets wat heeltyd afsak nie.

Baie bruide baseer ook hulle keuse van kousband op die volgende aspekte…
IETSIE BLOU: Bruide wat hou van tradisie sal dikwels die kousband inbring as ’n ‘ietsie blou’ om ’n prettige element tot foto’s te voeg en ook om seker te maak dat hierdie gebruik nie oorgeslaan word nie.
IETSIE TRADISIONEEL: Romantiese kousbande met kant en pêrels is nog altyd gewild en kan baie sjarmant en klassiek vertoon – dit pas veral goed by ’n vintage tema en hoef nie noodwendig outyds te wees nie.
IETSIE BLINK: ’n Kousband met kristalle kan daai ekstra sprankel gee aan jou foto’s en troudag. Dit is ook iets mooi om te hou as aandenking en sal jou gaste se asem wegslaan.
IETSIE PERSOONLIK: ’n Kousband met julle name op en in die kleure van julle troue kan baie spesiaal wees.

As die kousband iets is wat julle ongemaklik laat voel, kan julle die volgende opsies oorweeg as alternatief:
– Die bruidegom kan sy klein swartboekie gooi en so afstand doen van al sy ou meisies se nommers en dit met ’n nuwe enkellopende ou deel. Dit kan net soveel pret wees en is nogal simbolies.
– Sit vooraf die kousband in ’n heliumballon en laat die bruidegom dit dan loslaat wanneer die sulke tyd is. Die enkellopende man wat dan die ballon eerste kan kry en bars, kry die kousband.
– Los die tradisie heeltemal uit, dis julle dag en julle besluit. Indien julle hierop besluit is dit dalk ’n goeie idee om dan ook nie die ruiker te gooi nie – net vir gelykvormigheid.

Wat jou voorkeure, kleurskema en styl ookal is, daar is beslis ’n kousband wat gemaak kan word om aan elkeen se unieke smaak te voldoen.

Foto: Dust and Dream Photography uit Sors en Emmerenchia Snyman se troue

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA