Liefde oor ’n afstand was al opsie vir FC en Lucille toe hulle mekaar net ontmoet het. Na ʼn paar maande van die langafstandverhouding het FC sy lewe in Johannesburg opgepak en sy tassie in die Kaap by Lucille gaan uitpak.

Hierdie paartjie se liefde het aanhou blom en tot ’n bruilof gelei. An-Sophie Lourens vertel ons van hulle bruiloffees met groenigheid en blomme as tema.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“My pa het my en FC aan mekaar voorgestel in Januarie 2015. Ons kon van die eerste dag af so lekker met mekaar gesels en die liefde het geblom. Op daardie tyd het hy in Sandton gebly en ek in die Kaap. Ons het mekaar beter leer ken en besluit om ʼn langafstandverhouding te begin. Gelukkig net vir ʼn paar maande, want toe trek FC Kaap toe.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE LIEFDE BLOM?
FC: “Haar glimlag en haar persoonlikheid, maar meestal haar glimlag.”
Lucille: “Sy hande en sy sin vir humor.”

WANNEER HET JULLE GEWEET JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Ons het begin gesels oor die toekoms en dit was elke keer met ʼn swaar hart wat ons mekaar moes groet op die lughawe, terwyl ons in ʼn langafstandverhouding was.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ek is ʼn fotograaf en my eerste naweek af was eers einde Maart 2017. Ek het vir ons ʼn paartjiefotosessie bespreek (min het ek geweet dat hy my gaan sy liefde gaan verklaar en my gaan vra om te trou.) Hy het toe die hele verlowing met die fotograaf gereël en my tydens die fotosessie gevra.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN DIE TROUE?
“Ek was bevoorreg om so baie troues te kon afneem voor my eie troue en het baie idees gekry van waarvan ek hou. Ons het eerste die venue gefinaliseer en toe die gastelys opgestel. Ons het in April getrou en het besluit op ʼn groenigheid en blomtema.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA?
“Ons kleurskema was burgandy, roosgoud en groenigheid of rustiek.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“ ʼn Elegante en romantiese atmosfeer, want dit skep ook ʼn warm gevoel vol liefde!”

BESKRYF DIE TROUDAG?
“My emosies het hoog geloop en alles het perfek uitgewerk net soos wat dit moes.”

HET DAAR IETS SNAAKS GEBEUR OP JULLE TROUE?
“My pa het nadat hy my oorgegee het my sluier afgetrap, dit was baie snaaks. Asook, FC en sy strooijonkers het na ons eerste dans ʼn spesiale dans vir my gedoen. Ek het dit glad nie verwag nie.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

• Moenie probeer beheer hê oor alles nie.
• Wees jouself en geniet elke sekonde van jou beplanning en troudag.
• Al gaan daar iets verkeerd, is dit nie die einde van die wêreld nie. Dis wat die dag soveel meer interessant maak en ʼn mens lag daaroor na die tyd! Dit gaan immers oor julle liefde.
• Maak seker die blomme wat jy wil hê is in seisoen. Ek wou peonies gehad het maar dit was glad nie beskikbaar in April nie.
• Weet ook wat jy wil hê en doen vir jou troue en probeer spaar waar jy kan.”

HET JULLE ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS GEHAD?
“Ek het grafiese ontwerp ook gestudeer, so ek het ons programme en die spyskaarte self ontwerp om geld te spaar.”

Die langafstand liefde was darem net tydelik. FC en Lucille het hulle ewige liefde aan mekaar beloof, in die mooie Wellington met groenigheid en blomme as hul tema, asook met die wete dat selfs lang afstande tussen mekaar nooit die liefde wat hulle vir mekaar het sal beïnvloed nie.

 

DIENSVERKSAFFERS:
Venue en drankies: Neo Venue
Koördineerder: Margo Kritzinger
Spyseniering: Slippery Spoon Kitchen
Bloemiste: La Joy
Dekor: Goeters
Skryfbehoeftes: Lucille Truter (bruid)
Troukoek: Crumb Cakes SA
Fotograaf: Lightburst Photography
Musiek: Deejays Music
Trourok: Cindy Bam Couture
Hare en grimering: Clarita Smit Hair, Make-up and Lash Extensions
Bruidegom se uitrusting: Mr Suit Hire

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA