Die dag toe Norman en Mariska gebore is, was hulle paaie reeds bestem om een dag met mekaar s’n te kruis. Alhoewel die lewe eers ’n paar draaie met elkeen moes loop, het hulle liefde wel alles oorwin.

 
Bestemde liefde omskryf Norman en Mariska Moolman se huwelik so goed. Nadat hulle gebed was om ware liefde te vind en waarlik lief te kan hê, het die paartjie se paaie uiteindelik gekruis en uitgeloop op ’n spogtroue. An-Sophie Jonker vertel meer hieroor…

ONS STORIE

“Lank voordat ek en Norman ontmoet het, was ons maʼs kollegas en vriendinne. Ek was eendag by toe sy ma vir haar sy hartseer verhaal oor sy vorige huwelik vertel het. Ek het vir ʼn oomblik in stilte bly sit en vir God gevra dat Hy my eendag hierdie man se vrou sal maak, sodat ek hom die liefde en versorging kon gee wat hy nodig het. Norman se gebed was dat God vir hom die vrou sal wys wat eintlik vir hom bestem is. Jare later het ons maʼs weer mekaar raakgeloop by Habby and Lace. Ons altwee was toevallig saam en het mekaar vir die eerste keer ontmoet. Dieselfde middag nog, het Norman vir een van sy vriende vertel dat dit liefde was met die eerste oogopslag. Ons het ʼn koffie-afspraak gemaak en ek het na die eerste koppie koffie geweet ek gaan met die man trou!”

ONS VERLOWING

“Norman het weke voor ons verlowing besluit dat ons elke Woensdag mooi moet aantrek. Daardie Woensdag het ons weer mooi aangetrek en winkels toe gegaan. Ons laaste stop was by Habby and Lace. Ons het gesels oor hoe ons ontmoet het en hoe ons lewens uitgedraai het. Ek het ʼn gebaar nagemaak oor hoe ons met ons eerste ontmoeting vir mekaar skelm geloer het. Op daardie oomblik het hy op sy knieë gegaan en my gevra om te trou!”

 

ONS TROUE

“Terwyl ons begin regmaak het vir die groot oomblik, het die wolke begin saampak. Teen die tyd wat ek en my pa na die kansel toe geloop het, het dit katte en honde gereën. Na ʼn pragtige boodskap deur ons vriend, Riaan, het die son weer begin uitkom en ons onthaal het begin. Dit was vol spesiale oomblikke en liefde. Norman se broer, Greyling, het ʼn liedjie vir ons gesing. Ten op sigte van ons dekor het ek van die begin af geweet ek wil nie spesifieke kleure vir ons troue hê nie. Ek wou iets romanties en elegant hê met baie kerse. Dit het ons toe laat besluit op blospienk, roomkleure en ʼn bietjie roosgoud. Op die einde was ons troudag beter as waarvan ons ooit sou kon droom.”

WAT HET JULLE ALLES SELF GEDOEN VIR DIE TROUE?

  • Voor die troue het my strooimeisies, my ma en my skooonma my gehelp om papierblomme te maak vir ʼn agtergrondmuur wat ons wou toemaak.
  • Ons het die naamkaartjies van ons gaste vir die tafelplan self gemaak.
  • Ons het self ʼn lekkernytafel beplan en uitgepak met al ons gunsteling-lekkergoed wat deel gevorm het van die gaste se dankiegeskenke.
  • My oumas het gehelp om kerse aan te koop, ons troukoek te bak en my kousband te maak.
  • Tessa, een van my beste vriendinne, het vir ons heerlike makrolletjies gebak vir die troukoek.

WAT DINK JY VAN SELFDOENPROJEKTE NA AFLOOP VAN JULLE TROUE?

“Seldoenprojekte is wonderlik, maar ek het gevind dat dit baie tyd in beslag neem en eintlik nogal baie ekstra spanning veroorsaak.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

“Konstante kommunikasie tussen die bruid en die bruidegom is baie belangrik wanneer jy selfdoenprojekte beplan. Beplan alles lank voor die tyd goed. Moenie alles self probeer doen nie en delegeer al die takies wat gedoen moet word.”

DIENSVERSKAFFERS
Troulokaal, spyseniering en drankies: Benedetto On Vaal
Koördineerder, bloemiste en dekor: Planning and Peonies
Verhurings: Set the Table
Skryfbehoeftes: The Peachy Peony
Troukoek: Elegant Wedding Cakes en bruid se vriendin, Tessa
Foto’s: One Fine Day
Musiek: Anton & Cassandra Swanepoel
Strooimeisierokke: Mariska Pfahl Couture
Hare: Styled by Riaan
Grimering: Vita Amici
Bruidegom se uitrusting: Woolworths

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA