Liefde is een van die sterkste fondamente om ’n verhouding op te bou en om die aanslae van die lewe te oorwin. An-Sophie Lourens vertel ons meer van Daneel en Chrisna se besonderse verhaal.


“Deur gesondheid en deur siekte,” Daneel en Chrisna de Beer se mooi liefdesverhaal is ʼn voorbeeld van hierdie frase. ʼn Voorbeeld van ware liefde wat sterk bly staan, selfs al word dit aangeval deur donker tye en siekte.

Die lewe het nie net maanskyn en rose belowe vir die getroude paartjie nie, en hulle moes deur moeilike tye worstel toe Chrisna se gesondheid in gedrang was. Tog het hierdie donker tyd, haar laat besef dat daar iemand aan haar geleen is om in goeie en slegte tye by haar te staan, iemand wie se liefde vir haar nooit sal vergaan nie.

HOE HET JULLE LIEFDE BEGIN?
“My beste vriendin het ons aan mekaar voorgestel.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE LIEFDE BLOM?
“Ons maak altyd opofferinge vir mekaar en gaan slaap nooit kwaad nie. Ons het twee heeltemal verskillende persoonlikhede en hou van verskillende goed, maar saam pas ons perfek.”

WANNEER HET JULLE GEWEET DAT JULLE BEDOEL IS VIR MEKAAR?
“Na ons twee jaar lank uitgegaan het, is ek gediagnoseer met ʼn siekte wat my gedurig in en uit die hospitaal laat beland het. Vir drie jaar lank het ons gesukkel om die regte dokter en medikasie te kry, sodat ek in remissie kon wees. Ek kon nie verstaan hoekom die ou nog by my sal wil bly ten spyte van my tuimeltreinlewe nie. Die antwoord was eenvoudig. As hy nie my sy gelos het toe dit regtig baie sleg gegaan het nie, sal hy ook nooit nie. Hy het ware betekenis gegee aan die frase “in siekte en in gesondheid.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Na ons piekniek gehou het langs ʼn rivier in Johannesburg, het hy my op ʼn helikopterrit geneem, waar ons op die Magaliesberge geland het. Hy het op die berg se liefde verklaar en die groot vraag gevra.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VIR JULLE TROUE?
“Ek hou van ʼn elegante styl, iets wat gewoon en eenvoudig is, maar wat nogsteeds ʼn indruk maak. Ek het daarom besluit op gewone kleure soos silwer, swart en wit. Dit verteenwoordig ook my en my man se persoonlikhede. Ek het heel eerste my rok gekry. Toe ek die rok sien, het ek geweet die beeldskone trourok is myne.”

WATTER ATMOSFEER HET JULLE GESKEP?
“Daar was definitief ʼn romantiese atmosfeer wat ons liefde weerspieël!”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Ek was baie kalm die dag van die troue en het ook vrede gemaak met die feit dat alles nie volgens plan gaan verloop nie. Alhoewel, ons na die tyd nie een ding kan noem wat verkeerd geloop het nie! Die dag was werklik perfek en vol liefde.”

HET ENIGIETS SNAAKS OP DIE DAG GEBUR?
“Ons het skoon vergeet om my kousband te gooi. Die venue maak een uur die oggend toe, so ons het na die balkon toe geskuif om verder te kuier. Ek het toe eers drie uur die oggend my kousband gegooi met tien mense nog teenwoordig!”

RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE…
• Moenie alles self probeer doen nie. Mense na aan jou, is daar om jou te help.
• Kyk hoe jy kan geld spaar.
• Ek het my dekor privaat gehuur, maar ook nie die maatskappy gebruik om dit te kom op sit nie. Dit het baie geld gespaar.
• Maak selfdoendekor.

WATTER SELFDOEN-ITEMS HET JULLE GEHAD?
“Ek het ʼn A- raamrak gekoop vir ons tafelplan en klein voëlkoutjies. Elke koutjie het ʼn persoon of paartjie verteenwoordig, met ʼn Lindt sjokolade binne-in en ʼn kaartjie wat aan die koutjie hang wat hulle tafelnommer aanwys.”

Alhoewel die toekoms onseker was vir Chrisna en soms maar duister, was een ding vir haar duidelik. Daneel se liefde vir haar is groter as enige struikelblok in die lewe. Hulle het hulle mooiste dag gevier in ʼn elegante styl en romantiese atmosfeer, terwyl hulle aan mekaar belowe “deur gesondheid en siekte, tot die dood ons skei.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördineerder, spyseniering en drankies: The Fairway Hotel and Spa
Blomme: Bride in Bloom
Dekor: Décor D Zign
Verhurings: NVT Events
Skryfbehoeftes: Manoa Design Studio
Troukoek: Melinda’s catering
Fotograaf: Velani Venter Photography
Videograaf: Quin Media
Musiek: EMC productions
Trourok: Eurobride
Hare: Dandelion Hair by Alyssa
Grimering: Rene McDonald
Bruidegom se uitrusting: Eurosuit

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA