Liefde was verseker nie blind vir Hyram en Monica die dag toe hulle ontmoet het nie. Hulle het dadelik geweet dat hulle, hulle lewensmaat gevind het en die res van hulle lewens saam met mekaar wil spandeer.

In vandag se artikel deel An-Sophie Lourens die storie oor hulle liefde en perfekte troudag met ons. Alles het goed afgeloop met goeie beplanning en hulp van hulle diensverskaffers. Hulle het intiem saam met vriende en familie hierdie kosbare dag in hulle lewens gedeel.

WAAR HET JULLE LIEFDE BEGIN?
“Ons is deur ’n gemeenskaplike vriend op ’n toeoogafspraak gestuur. Ek het voor die tyd ’n foto van hom gesien en hy het vir my gelyk na die perfekte oujongkêrel en ek het vir hom geklink soos ʼn baie susksesvolle, beeldskone C.A. Ons het vir drankies ontmoet en daarna het ʼn hele paar ontmoetings gevolg, asook die liefde.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET JULLE LIEFDE LAAT BLOM?
“Hy laat my lag en veilig voel. Hy is intelligent en hou my konstant op my tone.” Vir Hyram is Monica eg en dit maak hom gemaklik om homself te kan wees. Sy laat hom voel of hy berge kan versit. Sy is gaaf en het ʼn bedagsame siel.

HOE HET JULLE GEWEET DIS WARE LIEFDE?
“Ons het net geweet ons het die regte persoon gevind en daar was geen twyfel dat dit vir ewig is nie. Ons is so vinnig in mekaar se lewens ingeweef en alles het net reg gevoel.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Hy het ʼn nuwe werk gekry en ons het besluit om dit die naweek in die bos by Marataba in die waterberge te gaan vier. Ons het ʼn heerlike tyd gehad. Na ons een middag van ʼn wildrit afgekom het, het die oord gesê ons is ʼn gelukkige paartjie wat aandete in die bos gewen het. Oppad soontoe was daar vyf bordjies langs die pad met die mooiste liefdesversies op. Teen daai tyd het die trane al oor my wange gerol terwyl Hyram maak of hy nie ʼn idee het wat aangaan nie. Eers toe ons in die bos vir ete aansit, het hy sy liefde verklaar en my gevra. Ons was bietjie langer as ʼn jaar verloof.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons het vir ons een jaar herdenking by White Light gaan eet en geweet ons wil daar trou. Ons wou ʼn mooi, romantiese, ontspanne, prettige en intieme troue hê en dit was presies die atmosfeer van die groot dag. Dit was meer ʼn familiepartytjie met lekker kos en wyn, asook hope pret en liefde. My rok was perfek, met sakke, soos ek dit wou gehad het. Ek het ʼn Excel-bladsy gebruik om ons uitgawes binne begroting te hou en baie idees op Instagram en Pinterest gekry. Ons kleurskema was skakerings van pienk.”

HET DAAR IETS SPESIAAL OF SNAAKS OP DIE DAG GEBEUR?
“Hyram het tydens ons laaste bietjie inkopies sy beursie verloor. Ons het die winkels plat gesoek daarna. Hy het dit toe die volgende oggend by die huis gekry.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Beplan alles deeglik vooraf dat jy nie hoef te jaag die dag voor die tyd nie. Weet ook daar mag dalk iets verkeerd loop, groot of klein, maar moenie dat dit jou onstel nie. Dit gaan oor julle liefde vir mekaar.”

Hyram en Monica het hulleself nie blind gestaar teen die liefde tussen hulle nie. Hulle het dadelik gesien dat hulle bedoel is vir mekaar. Hulle het hulle lewenslange belofte aanmekaar afgelê voor ʼn intieme groep mense wat hulle na aan die hart lê. Met goeie beplanning het hulle dag perfek uitgedraai.

Kliek hier om die video van die paartjie se mooiste dag te kyk.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering en drankies: The White Light
Blomme en dekor: The Hire Society
Skryfbehoeftes: Creative Heroes
Troukoek: 180 Degrees Catering
Fotograaf: Pritti Photography by Migneon Marais
Video: White Motion Films
Musiek en vermaak: Dewald Ferreira
Trourok: Elbeth Gillis
Hare en grimering: Makeup by Lauren
Bruidegom se uitrusting: Frank Bespoke

KLIEK ONDER VIR NOG ʼN OULIKE TROUFOTOGRAAF

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA