Liefde is nie altyd maklik nie, maar op die ou einde werk dinge tog uit soos wat dit moet. Pieter en Marlize deel hulle storie en foto’s met ons.

Pieter en Marlize het al op skool ontmoet, maar eers jare daarna regtig in mekaar begin belangstel. Alhoewel daar baie struikelblokke was, het ware liefde geseëvier en na nege jaar saam, het hulle dit tot by die kansel gemaak. Hier is hulle storie…

WANNEER HET JULLE BESEF DIS WARE LIEFDE?
Marlize: “Sjoe waneer? ’n Datum is onmoontlik om neer te pen. Die agt jaar voor hy die vraag gevra het, het ek net geweet dié man moet ek nie laat gaan nie. Hulle sê ’n vrou soek altyd ’n man nes haar pa en die dag toe ek agterkom Pieter is ’n weerspieëling van my pa, wat my ma met sy hele hart bemin het, het ek geweet hy is vir my bedoel.”

Pieter: “Sy verstaan my… Sy sal altyd ’n plan maak om saam my rugby te kyk, al verstaan sy nie altyd wat daar aangaan nie. Sy sal ook uit die bloute vir my sommer rugbykaartjies koop, want sy weet ek is mal daaroor. Ek is doodseker dis wat elke man in ’n trouvrou soek.
Ons het vier jaar saam gebly voor ons getroud is en voor dit het ons vir omtrent vier jaar ’n langafstandverhouding gehad. Sy het altyd moeite gedoen om duisende kilometers agter my aan te ry na die kleinste dorpies om haar vakansie by die Universiteit saam met my te spandeer. Sy wou net altyd by my wees en dit het my laat besef sy is die een wat ek vir die res van my lewe by my wil hê. Sy is my alles.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Pieter het my gevra om vir altyd syne te wees op die wal van ’n foreldam in Dullstroom. Die son het agter die koppie gesak en hy het vir my die mooiste briefie geskryf. Hy het seker geweet hy sal nie self al die mooie woorde kon uiter nie. Emosies was baie hoog toe hy my vra om vir altyd syne te wees. Natuurlik het ek ja gesê, hy is die liefde van my lewe.”

VERTEL ONS MEER OOR JULLE TROUBEPLANNING?
“Ons wou graag ’n elegante en romantiese geleentheid skep om ons liefde vir mekaar te vier. Ons het op ’n elegante, rustieke tema besluit met skakerings van blospienk, vlootblou en aardse kleure.”

BESKRYF JULLE DAG VAN LIEFDE?
“Dit het verbygevlieg, maar ek sal elke oomblik daarvan vir altyd koester. Al my emosies was onder beheer, tot die oomblik wat die kerkdeur oopgegaan en die viool en kitaar begin speel het. Al wat ek kon sien, was Pieter voor by die kansel. Die oomblik was so mooi en opreg.”

HET JY ENIGE RAAD VIR BRUIDE?
“Al was ons vir meer as ’n jaar verloof het die tyd gevlieg. Ek het elke herinnering gekoester, want dit was die eerste en die laaste keer wat ons aan ons troue sou beplan. Ek het foto’s geneem van die hele proses.
* Maak seker jy haal diep asem en neem elke oomblik in voor en die dag van die troue. Voor jy jou oë uitvee, is ’n jaar en die dag verby.
* Maak seker jy het ’n goeie span en aanvaar hulp van alle kante af, want jy kan nie alles self doen nie. My stooimeisies, familie en vriendinne was ongelooflik en het my gehelp sonder om twee keer te dink.
* Maak tyd vir jou verloofde, alhoewel hulle wonderlik en ondersteunend is, is trouereël, papiertjies, dans oefen en die fynere detail nie vir hulle so belangrik nie. Moet ook nie tenagekom voel omdat hy nie so ingestel is nie.”

Die liefde is voorwaar net so mooi, soos wat hierdie paartjie se troudag was.

DIENSVERSKAFFERS
Venue en spyseniering: Zakopane Country Village
Blomme: Daisy Flowers en Hsaing Chun Orchid Garden
Verhurings: Smoorverlief, Tenworx
Skryfbehoeftes: Altasilk Screen Printing & DIY
Troukoek: Siebert Cakes & Delights
Koekversiering: Help ’n Bruidjie
Foto’s en video: Sagely Photography
Musiek: Daryn Liebenberg
Vermaak: Hanlie Dames (viool) en Hillary Hammond (kitaar)
Trourok: Bridal Wardrobe
Hare en Grimering: Karen B
Bruidegom se uitrusting: Fabiani
Bruid se skoene: Forever New
Bruidegom se mouknope: Net ’n Kameel

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA