ʼn Warm liefde vir mekaar en hulle naastes was, deurlopend, die gevoel wat opgebou het tot Hernus en Elzbeth Bosch se troudag. Dit is ook eienskappe wat hulle nastreef en uitleef.

Die nuutgetroude paartjie se huweliksdag was gevul met ʼn warm gevoel van liefde en geluk. Dit is ook bewys deur hulle fantastiese ondersteuningsnetwerk van familie en vriende wat gehelp het om hulle dag so spesiaal as moontlik te maak. An-Sophie Lourens vertel meer oor hierdie besonderse geleentheid wat deur LORA Photography se Ramey Short (Dr. Quinton Meyer in Binnelanders) en Loricia Bruwer vasgevang is. Voormalige Mej SA, Melinda Bam, was ook ’n strooimeisie op die dag!

HOE HET JULLE PAD VAN LIEFDE BEGIN?
“In 2010, tydens Tuks-jool, het ʼn wintie eerstejaar met sy interessante kopband en persoonlikheid wat daarby pas, het my aandag getrek. Daardie dag was die begin van ʼn spesiale vriendskap wat baie vinnig tot iets besonders gegroei het. Hernus het van die eerste dag af geweet ons is bedoel vir mekaar, alhoewel hy eers drie jaar later dit aan my erken het en haar gevra het om sy meisie te wees.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET JULLE LIEFDE LAAT BLOM?
Elzbeth: “Sy vermoë om met enigiemand te kan gesels en vriendelik te wees.”
Hernus: “Haar sagte hart en omgee vir die mense rondom haar.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ons het Wildtuin toe gegaan om die vyf jaar wat ons uitgaan te vier. Op die laaste dag van ons wegbreek, het ons Blyde River Canyon toe gegaan en op die randjie van die berg met die mooiste uitsig het hy op sy knieë gegaan en die groot vraag gevra.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“My ma en die sussies by Thaba Manzi het alles so goed beplan en gereël. Ek het meestal met die diensverskaffers te doen gehad en ons finansies georganiseer. Ons het begin by die fotograaf en videograaf, wat vir ons van die belangrikste aspekte van die troue was omdat dit die herinneringe van ons dag van liefde moes vasvang. Ons het LORA Photography gebruik, wat besit word deur die akteur Ramey Short en sy meisie Loricia Bruwer.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA VIR DIE TROUE?
“Wit, groen en maroen. ʼn Goeie vriendin van my het eendag vir my ʼn paar foto’s gestuur met die kleure in en dit het dadelik my hart gewen.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Warmte. Die teenwoordigheid van God se liefde en geluk. Dis waaroor ons liefde gaan en waarop dit gebou is, om mekaar lief te hê soos God ons eerste lief gehad het.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Dit was die beste dag van ons lewens! Alles was perfek en vol liefde.”

WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“My ouers, die sussies van Thaba Manzi en hulle span, was absolute sterre met die beplanning en die dag self. My man was die mees betrokke bruidegom waarvan ek nog gehoor het. Ek het ook drie raakvatter sussies en drie beste vriendinne wat my ondersteun het van die begin af en enigiets gedoen het wat ek gevra het. Ek werk vir my broer en as hy nie so tegemoetkomend teenoor my was en my toegelaat het om troue te reël nie sou dit baie moeiliker gewees het. Daar is soveel name wat hier genoem kan word, die lank en die kort is daar was ʼn span agter my wat die dag moontlik gemaak het.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet net elke oomblik, dit gaan so vinnig verby. Alles gaan nie 100% wees soos jy
beplan het nie, maar kyk verby dit en neem elke oomblik in.”

HET JULLE ENIGE DOEN-DIT-SELF-ITEMS OP JULLE TROUDAG GEHAD?
ʼn Hele paar:
• Ons Troukoerantjie het my kleinsus, Berna Bergh, ontwerp en beplan.
• Kussings is deur my ouma gehekel.
• Die mooi wiel-sitpekke by die peuselhappies is ontwerp en gemaak deur my moeder.
• Al die houttafels is gemaak deur Jean van Thaba Manzi.

Hernus en Elzbeth leef met groot, warm liefde in hulle harte vir hulle naastes. Hulle vriende en familie het hulle geskenk van warm liefde aan hulle terug bewys deur van groot hulp te wees op hulle troudag. Dis waarop hulle hele huwelik gebou is, “om mekaar lief te hê soos God ons eerste lief gehad het.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, blomme en dekor: Thaba Manzi Wildlife Service
Spyseniering: Union Caterers
Drapering: Finely Wrought
Verhurings: Affinity Events and Hire
Skryfbehoeftes: Berna Bergh, Bottom Line Design en Platteland Decor and Gifts
Troukoek: Familievriende
Fotograaf: LORA Photography
Videograaf: Hand Made Media
Musiek: AJR Audio
Vermaak: Frans en Angela Volschenk saam met Vivace Guitar Duo
Trourok: Ciska Barnard Couture
Hare: Zene Deysel
Grimering: Charmain van der Merwe
Bruidegom se uitrusting: Jones and Kent en Fancy Gent
Houtplekmatjies: Modern Age Designs
Fotohoekie: Photo Hat
Gasteboek: Yvette Kooy
Kussings: Gehekel deur die bruid se ouma, Frieda de Bruin

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA