Materiaal speel ’n belangrike rol wanneer dit kom by die keuse van ’n trourok. Dit sal bepaal watter snit jy kan gebruik en hoe gemaklik die rok aan jou lyf gaan voel. Juanri van Juanri Image Consultant & Fashion Design gee raad.

Daar is deesdae so baie materiaal om van te kies, wanneer jy jou trourok laat maak of moet besluit watter een die beste vir jou gaan werk, dat dit jou soms ’n bietjie benoud en oorweldig laat voel. Om te keer dat jy in ’n kouesweet uitslaan in die materiaal– of rokwinkel, wanneer jy hierdie groot besluit moet maak, het ons die hulp en raad van ’n kenner ingeroep. Sy vertel ons meer oor die gewildste materiaalsoorte:

SY (SILK): Dit word gemaak van die draadjies van ’n sywurm se koekon. Dit is blink, luuks en reflekteer lig in verskillende kleure. Dit hang of sit baie mooi en is beskibaar in verskeie kleure. Sy laat ’n trourok elegant en duursaam vertoon. Omdat dit van natuurlike vesels gemaak word, haal dit asem en sal jy dus nie sweet in so ’n skepping nie. Rou sy (raw silk) is nie so glad soos gewone sy nie. Die materiaal is oneweredig, wat dit ’n meer natuurlike gevoel gee en maak dat dit ’n bietjie minder blink.

SATYN (SATIN): Dis ’n ligte, sagte, sintetiese materiaal. Die verskil tussen satyn en sy, is dat satyn ’n kenmerkende blink voorkoms het, wat sag en glad is. Die bokant van die materiaal is blink en glad, terwyl die onderkant dof is. Satyn is meer delikaat en moeiliker om mee te werk, omdat dit so glad is. Satyn is ook goedkoper as sy.

HERTOGINSATYN (DUCHESS SATIN): ’n Elegante blink materiaal, wat redelik swaar is. Dit word gereeld vir trourokke gebruik omdat dit vorm gee aan ’n rok en stewig is. Daar is ’n weergawe wat van 100% satyn gemaak word, asook ’n sintetiese soort wat van Poliëster, nylon of asetaat gemaak is. Die sintetiese soort is goedkoper as die natuurlike soort. Hertoginsatyn word gereeld gebruik onder sagte materiaal soos chiffon. Dit gee vorm aan jou figuur deur kurwes en rondings te verbloem.

CHIFFON: ’n Sagte, delikate, deurskynende materiaal, wat gereeld vir aandklere en trourokke gebruik word. Dit gee ’n elegante, sagte en vloeiende voorkoms aan enige rok. Wanneer jy die materiaalwinkel besoek, sal jy vind dat daar twee soorte chiffon is. Satyn-chiffon en sintetiese chiffon, wat baiekeer Silky Chiffon genoem word. Die eerste ding wat jy sal oplet, is die prysverskil. Silk Chiffon word van sy-draadjies gemaak. Dit kan net deur middel van die droogskoonmaker skoongemaak word en selfs ’n druppeltjie water los ’n merk. Sintetiese chiffon is goedkoper en, as jy versigtig is, kan dit met die hand gewas word. Georgette is soortgelyk aan chiffon, maar dit is effens swaarder, minder deurskynend en dit het nie die gladde, blink gevoel van chiffon nie.

NET (TULLE): ’n Delikate materiaalsoort wat herken kan word aan die klein gaatjies regoor die oppervlak van die materiaal. Daar is ’n klomp verskillende soorte net: sekeres is styf en hard soos Horsehair Net, terwyl ander sag en vloeibaar is soos Italian Tulle of Mesh.

CHANTILLY-KANT: Word gereeld gebruik vir trourokke om ’n oudtydse, romantiese gevoel te skep. Jy kry dit in verskillende ontwerpe en style, met of sonder kraletjies. Jy sal Chantilly-kant herken aan die fyn, delikate motiewe wat op ’n sagte net vasgewerk word, soos takkies, blaartjies en blommotiewe. Die materiaal word in Chantilly, Frankryk, gemaak en kan nogal duur wees – tussen R1 500 en R3 000 per meter.

Dit bly oorweldigend om materiaal te kies vir jou droomrok. Daar is nog baie ander opsies as dit wat ons genoem het. Dit is belangrik om te onthou dat die materiaal by die gevoel van jou rok en ook jou troue moet pas. As jy by die see trou, wil jy ’n sagte vloeiende gevoel skep, en kan jy kies tussen Chiffon, Georgette of Italian Tulle en Mesh. As jy ’n formele, elegante gevoel wil skep kan jy kies tussen Sy, Satyn en Hertoginsatyn. Hou die materiaal voor jou in ’n spieël om ’n beter prentjie te kry van hoe dit om jou lyf gaan vertoon.

Foto: Davids Bridal

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA