modetendense vir die bruidegom in 2015 1
Die dae van beperkte opsies vir die bruidegom, wat klere aanbetref, is verby. Deesdae is daar baie style en temas om van te kies. Liza de Jager van Bella Vestito vertel ons meer oor 2015 se modetendense vir mans.

In die verlede was daar slegs keuses wanneer ’n bruidegom moes aantrek – ’n pak of ’n tuxedo. Die meeste bruidegomme het in swart getrou en die enigste ander kleure was in die das of onderbaadjie gesien.

Dinge het sedertdien heelwat verander, en in 2015 is dit nie net die bruid en strooimeisies wat ’n indruk moet maak nie, maar ook die bruidegom en sy gevolg. Mans is deesdae baie meer modebewus en wil graag spoggerig lyk op hulle groot dag.

DIE ELEGANTE OF MODERNE TROUE
Die gewildste styl pak vir die jaar, is beslis een met ’n noupassende snit. Al wat jy hoef te doen, is om te loer na wat die sterre op rooitapyt dra om te sien hoe groot hierdie tendens is. Dit is ook nie meer noodwendig ’n swart pak waarin die bruidgom vir sy bruid voor die kansel wag nie, want daar is talle opsies beskikbaar – van donkerblou, ligblou en grys tot roomkleurige of bruin pakke.

modetendense vir die bruidegom in 2015 2

DIE INFORMELE OF PLAASTROUE
Mans wag al dekades lank vir hierdie dag om aan te breek. Die kortbroek en kruisbande is in! Vir paartjies met ’n meer informele troue, is ’n bruidegom met ’n kortbroek, lang kouse en kruisbande ook glad nie meer taboe nie. Troues het sosiale kuiergeleenthede geword en die kleure, klere en style van alles het verander om hierby te pas. Tema-troue is ook baie in die mode en paartjies sal ver gaan om seker te maak dat alles mooi inpas.

Iets wat ook nogal in die mode is, is dat die bruidegom en die gevolg nie dieselfde lyk nie, om ’n anderste gevoel te skep en hoedjies is ook nogal in die mode.

modetendense vir die bruidegom in 2015 3

DIE VINTAGE TROUE
Soos met die meer informele troue, is die tendens om te mix and match ook hoogmode by ’n vintage troue. Pakke met blokkies is nogal besig om gewild te raak en word al hoe meer by troues gesien.

DASSE
Dasse is nou een maal nie vir almal nie en daar is baie bruidegomme wat dit glad nie dra nie. Maar hierdie is nou een item wat ’n uitrusting sommer baie kan opkikker.

As jy nie kans sien vir ’n vollengte das nie, kan jy beslis ’n strikdas oorweeg want dit is deesdae vreeslik gewild. Dit lyk altyd elegant vir ’n modern troue, maar pas ook besonders goed in by die vintage bruidegom. Indien die strikdas nie vir jou bruidegom is nie, kan jy definitief die dunner das oorweeg, wat ook besig is om al hoe meer gewild te raak.

Lapblommetjies of lapelwapens, in plaas van regte skouerruikers, is ook baie gewild.

KOUSE
Saam met kortbroeke, is lang kouse die in ding. Indien jou bruidegom ’n pak dra, en hy wil dalk ’n bietjie van sy pretige persoonlikheid inbring, kan elke man in die gevolg asook die bruidegom elkeen ’n paar kouse dra met hulle name op, of gekleurde kouse aantrek.

modetendense vir die bruidegom in 2015 4

Mansmodes het die afgelope paar jaar aansienlik verbeter en jou bruidegom het dus in 2015 ’n kans om sy persoonlikheid en styl ten toon te stel tydens julle mooiste dag.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA