herfstroue met sonneblomme 1
Tanya se gunstelingblomme, is sonneblomme en het hierdie die blomme nie uitgetsaan op haar en Pierrie se pragtige herfstroue nie! Hulle wou ’n lekker gesellige plaastroue skep, wat hulle saam met hulle gaste kon geniet.

herfstroue met sonneblomme 2

Geel en blou was ʼn treffer-kleurkombinasie op dié twee se troudag. Dit het die vars atmosfeer van ʼn helder herfsdag perfek gekomplementeer.

’N GESTEELDE SOEN
Volgens Pierrie het hy al ogies vir Tanya gehad vanaf die eerste keer wat hy haar by die werk gesien het, maar Tanya sê dit was die soen wat hy, op gemeenskaplike vriende se verjaarsdagpartytjie, gesteel het (toe sy iets in sy oor wou fluister) wat haar gewen het. Hy erken “Ek moet saamstem dis die skelm soen wat die ding gedoen het.”
Sy kan ook vir jare spog oor die romantiese manier waarop hy haar gevra het om te trou: op ʼn catamaran-seilboot in die Knysa-koppe.

’N SPAN SOOS MIN
Die twee is ʼn span. Soos Tanya van hulle troudag sê: “Ons twee het dinge saam gedoen, nie elkeen op sy eie nie. Dit is maar hoe ons verhouding ook is. Ek wens net ons kan dit weer doen, ek reël sommer nog ʼn troue vir ons eerste herdenking!”
So het hulle dan ook alles vir die troue self gedoen en elke oomblik daarvan geniet.
 
EKONOMIES EN LEKKER
Hulle wou ʼn ekonomiese, plat-op-die-aarde plaastroue hê. Die skaapspitbraai, met pap en sous, was nie onderhandelbaar vir Pierrie nie en was ʼn sukses. “Ons het rustig ʼn bord kos geëet, gedans en saam drankies gedrink. Op die ou einde van die dag moet dit ʼn lekker partytjie wees. Doen waarvan jy hou en doen wat julle gemaklik laat voel.”
Al het die twee se pa’s hulle spaarvarkie aangehelp, het hulle steeds in hulle begroting gebly.
Hier is wat hulle te sê gehad het oor hulle ses maande se harde werk:
“Om ʼn troue te beplan is nie maklik nie, hulle sê nie verniet ‘trou is nie perde koop nie’. ’n Mens moet elke sekonde van die beplanning geniet, daarom moet jy gereed wees en die nodige tyd op jou hande hê. Ons het die ses maande gate uit geniet. Doen dinge saam en kry albei se opinies.”
Tanya reken sy is nie kreatief nie, maar het dit steeds geniet om deel te wees van die maakproses, onder die kunstige leiding van haar raakvat-skoonma. “Om die botteltjies op die tafels, die manne se skouerruikers en my kousband te maak, was hope pret en my skoonma het my ʼn paar dinge geleer.”

herfstroue met sonneblomme 3
IETSIE BESONDERS

Die diensverskaffer, Goedjies, het spesiale armbande, met foto’s op, vir die bruidsmeisies en bruidegom se ma gemaak. Op haar skoonma sʼn was gegraveer: “Ma van die bruid en bruidegom” (Omdat die bruid se ma oorlede is).

Ter ere van haar oorlede ma, het hulle ʼn foto van haar op die blommeruiker gesit.

ONS HET BAIE GEHOU VAN DIE:

  • oorspronklike handruiker van dennebolle en sonneblomme;
  • oulike sonneblom-kransies vir die blommemeisies en bruid;
  • houtballe met feetjieliggies om gedraai;
  • blou drankies wat by die kleurskema gepas het;
  • hessian-tapyt waarop sy kansel toe gestap het; en
  • die unieke hom-en-haar-troukoek.

herfstroue met sonneblomme 4

DIENSVERSKAFFERS
Venue en Spyseniering: Rustplaas
Kos: Frik Bouwer Vaatjie en Rian Slaghuis
Drankies: Spot On
Blomme: Elrene Bloemiste in Piet Retief
Troukoek en dekor: Suzette Joubert (Ma van die bruidegom)
Troukoekversiering en elektroniese uitnodiging: Isabel Loubser van Jy is Uitgenooi
Verhuring: E&G Creative D-Zign
Armbande en ruiker-charm: Goedjies
Foto’s: Amanda Boonzaaier Photograpy
Videograaf: Lourens Luyt
Musiek: Andries Potgieter
Trourok: Bridal Manor
Hare en grimering: Hair Awards
Bruidegom se uitrusting: Euro Suits
Ander: Ceroc Dance Elegance

Artikel: Yolande van Deventer

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA