seetroue 1
Annemarie en Juan is plat-op-die-aarde Weskusmense, wat kaalvoet op die strand getrou het. Skoene was opsioneel vir die gaste wat na die troue toe genooi is met ʼn boodskap-in-ʼn-bottel. Almal kon heerlik in die vars seelug ontspan.

seetroue 2

Die paartjie was reeds ʼn dekade lank saam toe Juan die groot vraag by Porterville gevra het. ʼn Mens kan byna sê hulle het hul eerste sak sout al saam opgeëet. Alles het begin by ʼn waterwurm toe hulle nog saam op skool was en na skool het hulle verhouding vyf jaar oor ’n lang afstand ook oorleef. Hulle liefde is beslis trougehalte!

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons het die troue oor twee jaar beplan, want ons het self vir alles betaal. Die grootste taak was om die perfekte venue te soek. Ons wou graag ʼn plekkie by die see kry, want ons altwee kom van die Weskus af en ek wou baie graag op die strand trou. My skoonma het die Weskusplek op Jacobsbaai, voorgestel. Dit was absoluut perfek. Daarna het ek ʼn begroting vir die troue opgestel om elke rand wat uitgaan te beheer, want ons wou nie met onnodige skuld sit na die troue nie.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN DIE TROUE EN WAAROM HET JULLE DIT GEKIES?
“Ons het op ʼn see-tema besluit en die kleurskema was see-kleure met ʼn tikkie pienk, want dit is my gunstelingkleur. Daarby is ons plat-op-die-aarde mense wat hou van aardse kleure en die natuur.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE GRAAG SKEP EN HOEKOM?
“Die troue was klein en intiem en moes informeel en glad nie styf wees nie. Al die gaste moes net hulself wees en die dag saam met ons geniet. Die seremoniemeester, Michael du Preez, het die gaste met sy grappies vermaak en na ete het die DJ die dansbaan-area in ʼn klub verander. Ons het lekker geëet, vonkelwyn gedrink en gedans.”

seetroue 3

VERTEL ONS MEER OOR DIE BLOMME EN DEKOR EN WAAROM JULLE DIT GEKIES HET?
“My skoonma, Susan Truter en haar sussie, Joey van Schoor was in beheer van die troue se dekor. Baie daarvan is self gemaak. maar ons het ook van my skoonma se gastehuis se dekor gebruik. Sy het die idee gekry om plekmatjies uit houtpalette te maak en liggroen te verf. Ons wou elke tafel sy eie unieke see-toneel gee, daarvoor is ʼn boks vir elke tafel gebou waarin versierings van sand, skulpies, kersies, liggies ensovoorts geplaas is. Elke boks het een of twee pienk lelies gehad vir die tikkie pienk wat ek wou in hê. Ons het ook ʼn skatkis gehad waarin die gaste hulle koevertjies kon gooi. My ruiker en die strooimeisies se handruikers het bestaan uit ligte pienk tulpe in die middel met wit baba-se-asem rondom. Die betekenis van baba-se-asem is ewigdurende liefde, daarom het ek dit gekies. Ek het ook díe blommetjies in my hare gedra.”

HET JY ENIGE ANDER RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT HIERDIE TEMA VIR HULLE TROUES WIL KIES?
“Hierdie tipe tema is maklik om mee te werk, jy kan baie goedjies self maak en by vlooimarkies koop om koste-effektief te wees. (Die skulpe wat ons gebruik het, het ons op die strand opgetel en was dus verniet.) Dit is wel baie belangrik om die weer en die seegetye ingedagte te hou en daar moet ʼn alternatief wees vir ingeval die wind waai of dit hoogwater is. ʼn Troue kan beslis onder R100 000 gedoen word, beplan en begroot net mooi. Die internet is vol interessante idees en hopenlik het julle ook ʼn kreatiewe persoon soos my skoonma in jou span! Ek het ook baie idees by Troukoors gekry.”

seetroue 4

DIENSVERSKAFFERS
Venue en spyseniering: Weskusplek restaurant
Blomme: Ronels Bloemiste
Verhuring: Be-dazzled
Troukoek: Ester van Houwelingen
Fotograaf: Anne Gray
Musiek: Frans Pieters
Trourok: Robyn Roberts
Hare: Jurita
Grimering: Adele Tolken van Labella Beauty Salon in Saldanha
Bruidegom se uitrusting: Tiger of Sweden

Artikel: Yolande van Deventer

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA