’n Troue sonder drama en vol vreugde is wat dié paartjie graag wou hê. An-Sophie Lourens deel die storie agter hierdie mooi dag.


JP en Marianne Slabber se troue was net soos hulle verhouding gemaklik en sonder drama. Almal se harte het oorgeloop van vreugde by hulle bruilofsfees!

Ons kon nie anders as om by hierdie getroude paartjie te gaan aanklop om uit te vind hoe hulle so ’n lekker dag gereël het nie.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“Ons het deur gemeenskaplike vriende ontmoet, maar dit was eers heelwat later wat JP besluit het om sy flikkers na my kant toe te gooi. Ek het hom genooi na ’n wynproe en so paar afsprake later was die spreekwoordelike koeël deur die kerk.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
JP: “Marianne verstaan my!”
Marianne: “JP het die mooiste hart, hy is saggeaard en vredeliewend en behandel my met soveel respek.”

WANNEER HET JULLE BESEF DAT JULLE BEDOEL IS VIR MEKAAR?
“Van die begin af was ons verhouding moeiteloos en die feit dat ons so gemaklik is met mekaar en op verskeie maniere mekaar aanvul, is wat ons aangetrek het na mekaar.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“JP het ’n dag van uitstappies na die Taalmonument, Babelonstoren en ’n wynplaas naby Franschhoek beplan, waarna ons gaan piekniek hou het by Solms Delta. Hy het volgehou dat hy die kamera wil opstel om ’n foto van ons te neem, ek minwetend dat hy die oomblik wil vasvang wanneer hy my vra om te trou.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Maak eerstens jou begroting vas en besluit hoeveel jy bereid is om te spandeer op elke element. Dit gebeur so maklik dat jy hier en daar ietsie wil byvoeg! Stel ook ’n tydlyn op van wanneer jy wat moet afhandel – dit sal onnodige stres nader aan die troue verminder. Om misverstande te vermy, maak seker dat jy en jou diensverskaffers op dieselfde bladsy is en bevestig ’n week voor die troue dat alles nog in orde is. As vriende of familie hulp aanbied, aanvaar dit en delegeer sekere takies.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JOU TROUE?
“Ek het van die begin af besluit dat ek nie ons troue rondom ’n kleurskema of tema wil beplan nie. Dit moes so natuurlik en gemaklik as moontlik wees. Ons het houttafels en glaspotjies gekombineer met verskillende soorte en kleure blomme.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE GRAAG SKEP MET JULLE TROUE?
“Vir ons was die belangrikste dat daar goeie kos, goeie wyn en ’n feestelike en gemaklike atmosfeer moes wees. Soos een van ons gaste na die troue opgelet het: ‘Ek het lanklaas troufoto’s gesien waar almal heeltyd so gelukkig lyk.’ En dít is wat ons graag wou hê – ’n bruilofsfees!”

WAT HET AGTER DIE SKERMS VAN JULLE TROUE GEBEUR?
“Ons is geseënd met ongelooflike familie – dit was voorwaar ’n spanpoging om als voor te berei. Buiten die feit dat my ma my trourok en troukoek eiehandig gemaak het, het elkeen ingespring om te help dat alles voor, tydens en ná die tyd glad verloop.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“’n Troue is ’n feesviering van twee mense se liefde vir mekaar. Geniet die beplanning en moenie dat klein goedjies jou onnodig ontstel nie.”

WAS DAAR ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS OP JULLE TROUE?
“Omdat ek ’n grafiese ontwerper is, het ek self die uitnodigings, tafelplan en spyskaart ontwerp en laat druk. Glasbotteltjies was deel van ons tafeldekor. Vriende en familie het ons gehelp om dit bymekaar te maak.”

 

DIENSVERSKAFFERS:
Venue: Natte Valleij
Spyseniering: Marilou Marais (Avec Mari Catering)
Drankies: Bottoms-Up Bar Service
Bloemiste: Riana Vosloo
Troutoebehore: Grandeur Hire / Downing Event Hire
Troukoek en trourok: Lize Fourie (Ma van bruid)
Fotograaf: Sonjé Ludwick Photography
Musiek: Gideon Smit (PG Sounds)
Hare en grimering: Salome Zietsman (Brush Salon)
Bruidegom se uitrusting: Woolworths

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA