’n Oggendtroue, met net die belangrikste mense, is soms die perfekte manier om ’n nuwe lewe saam af te skop. An-Sophie Jonker het meer gaan uitvind oor hierdie spesiale dag.

 
ʼn Intieme oggendtee-bruilof met ʼn Italiaanse Mafia-tema is presies wat Frank en Mariska Steyn vir hulle spesiale dag wou hê. Met net agt gaste, het hulle intiem en spesiaal hulle oggendtroue gevier.

HULLE LIEFDESVERHAAL VOOR DIE OGGENDTROUE
“Nooit het ek gedink dat Facebook my sou kon help om my trouman te vind nie, maar nou ja, dit het. Ons was wedersydse vriende van mekaar gewees en het ʼn hond uit ʼn bos uit gesels. Na ʼn tydjie se kuberkuier het ons gereël dat hy by my kom kuier. Op ʼn reëndag het die tyd aangebreek vir ons om te ontmoet. Hy het met ʼn bus vanuit die Kaap na my toe gekom. Hy het uit die bus uitgeklim en die oomblik toe ons oë ontmoet het, het ek geweet dit is liefde met die eerste oogopslag. Die gevoel in my hart en die skoenlappers in my maag, het dit alles gesê. Hy het my dieselfde naweek gevra om sy meisie te wees en vir my ʼn klein draad ringetjie gegee. ʼn Paar maande daarna het hy alles opgepak in die Kaap en by my kom woon in George.”

DIE GROOT VRAAG…
“Frank het my een middag na werk uitgevat vir ete. Na ete het hy my geblinddoek en ons het iewers heen gery. Hy het my uit die kar getel en my af gedra by ʼn stel trappe. Toe hy uiteindelik my oë oopmaak was daar ʼn piekniekmandjie gedek met soesjie en vonkelwyn. Die volgende oomblik het hy op sy knieë voor my gestaan met ʼn mossel in sy hand waarin my ring weggesteek was.”

OOR ONS OGGENDTROUE
“Ons het van die begin af geweet dat die lewe glad nie maklik is nie en ons het besluit om die oggendtroue baie klein en intiem te hou. Ons het besluit om net agt gaste – basies net familie – te nooi. Ons het besluit om ʼn teepartytjie met ʼn Italiaanse Mafia-tema te kombineer vir ons oggendtroue. Die kleurskema waarop ons besluit het was wit en swart. Ons het in ʼn pragtige tuin getrou en ʼn violis gehuur vir die dag. Ek wou ʼn rustige, elegante atmosfeer hê. Ons hou van die klein spesiale goed in die lewe, daarom wou ek die fokus daarop behou. Ek wou terug in tyd gaan, daarom het ons besluit dat almal hoede moes dra en die mans kruisbande.”

RAAD VIR SELFDOEN-BRUIDE…

WAT HET JULLE ALLES SELF GEDOEN VIR DIE OGGENDTROUE?
“Ons het van my ma se meubels gevat en dit in die tuin geplaas. Die koepel het ons versier met wit lap wat my ma alreeds gehad het. My ma is ʼn baie kreatiewe mens en weet net hoe om goed mooi te maak. Sy het die uitnodigings gemaak. Ons het die stoele versier met wit en swart ballone.”

WATTER RAAD HET JY AAN TOEKOMSTIGE BRUIDSPARE?
“My raad aan ander bruide is om nie fokus te verloor nie. ʼn Mens kan nogsteeds iets mooi doen op ʼn goedkoop manier. Soms is minder meer.”


DIENSVERSKAFFERS
Plek: Fairview Homestead George
Spyseniering en troukoek: Meod Café George
Blomme: Flowers for you, George
Verhuring: Stoele
Foto’s: Gerald Steyn
Musiek: Karel Landman
Trourok: Estique Wedding and Formal Wear
Hare en grimering: Beaula by Michelle

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA