regte troue
In hierdie regte troue getuig Warren en Nicole daarvan dat reën hulle gelukbringer was. Die reën het die saadjies van romanse dáái dag onder Nicole se sambreel laat ontkiem.
regte troue 2

VERTEL ONS MEER VAN JULLE ONTMOETING WAT GELEI HET TOT JULLE REGTE TROUE?
“Dit was ’n sonnige dag, maar omdat ek na die weervoorspelling gekyk het, het ek geweet dat ek ’n sambreel moes saamvat na die vergadering waarheen ek oppad was. Warren was ook daar, en het ’n aanmerking gemaak oor my sambreel. ’n Klein rukkie later moes hy sy woorde sluk toe hy die sambreel by my moes leen. Die dag daarna het hy dit vir my teruggebring, met ’n sjokolade by. Ons liefdesverhaal het van daar af begin – in die reën.”

VAN WATTER KARAKTERTREKKE HOU JULLE DIE MEESTE VAN MEKAAR?
Nicole: “Sy humorsin en bedagsaamheid. Hy laat my al van daai dag in die reën soos ’n prinses voel.”
Warren: “Haar passievolle persoonlikheid en haar glimlag wat my hele dag kan ophelder.”

HOE HET HY DIE JA-WOORD GEVRA?
“Dit was vreeslik romanties. Warren het op ’n doodgewone Saterdagoggend vir my kom kuier, met ’n boek waarin daar vier stappe neergeskryf was van dinge wat daai dag sou gebeur. (My ouers was natuurlik ook in op die plan.) Ek is net toegelaat om een bladsy op ’n slag om te blaai, en op bladsy een was daar ’n getekende prentjie van ’n vliegtuig, met die bewoording: “come fly with me”. Hy het vir ons vliegtuigkaartjies na George in die Weskaap gekoop, wat vir ons ’n baie spesiale plek was waarheen ons wou reis. Toe ons land kon ek na bladsy twee omblaai, waarop gestaan het: “come dine with me”. Na ’n lekker Italiaanse ete het ek opgewonde geblaai na bladsy drie, waarop gestaan het “come walk with me”. Ons het toe in ’n pragtige, bergryke woud gaan stap en terwyl ek die asemrowende uitsig geniet het, het hy op sy een knie afgegaan met die vierde bladsy van die boek wat gelees het “will you marry me?” Ons het vier perfekte dae daar spandeer en dit was perfek, al was daar nie reën nie en begin beplan aan ons regte troue.”

regte troue 3

VERTEL ONS VAN JULLE TROUBEPLANNING, ASOOK RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Ons het eerstens begin soek na ’n venue (en ek sal ander bruide ook aanraai om hier te begin) vir ons regte troue. Toe het ek my trourok gaan uitsoek en ek beveel elke bruid aan om soveel rokke as moontlik aan te pas en om dit ook te sien as ’n geleentheid om die ma-dogter band te versterk. Jy moet ook voorsiening maak vir elemente soos reën op jou spesiale dag. My beplanningswapen van keuse was die internet – blogs, facebook  en Pinterest. Wat trouverskaffers aanbetref, kan ek sterk voorstel dat bruide na hulle bemarking kyk – as verskaffers nie hulle sosiale blaaie opdateer en hulle produkte wys nie, kan mens net wonder oor hulle werksgehalte. Nog ’n belangrike punt is die begroting –jy hoef nie ’n plaas se prys te betaal om nogsteeds mooi goedjies te hê vir jou troudag nie. (Dit kan dalk net beteken dat jy tien keer meer moet rondshop om die beste pryse te kry.) Laastens was om die regte fotograaf te kry een van ons belangrikste keuse gewees – hulle kan die trouherinneringe maak of breek.”

WAT WAS JULLE KLEURSKEMA?
“Ek het op ’n blospienk en goue tema besluit. Gewoonlik hou ek nie van pienk of goud nie, maar saam het die twee kleure vir my so mooi en sag gelyk – kompleet soos die prinses-sprokiesverhaal waarvan elke dogtertjie droom.”

HET JY ENIGE DOEN-DIT-SELF WENKE VIR BRUIDE?
“Ek het die kindertafel self versier, met balonne en aktiwiteite by. Ek het ook die tafelnommers en die name van die gaste op etikette gedruk en op stokkies in die kolwyntjies gesit wat ons in plek van die sitplekbeplanning gebruik het. In plaas daarvan om spaar-die-datum-kaartjies uit te stuur, het ons ons eie webblad ontwerp en die skakel na ons gaste gestuur.”

Warren en Nicole kon nie wag om die reën en sonskyn van die lewe met mekaar te deel nie en hulle troudag was sprokiesmooi en onvergeetlik. Beslis ’n regte troue met baie mooi idees om vir jou eie een te oorweeg.

regte troue 4

DIENSVERRSKAFFERS
Venue, spyseniering en drankies: Kloofzicht Lode
Blomme, dekor en verhurings: Café Fleur
Skryfbehoeftes: Hestia Stationary
Troukoek: Mellie se KoekeGoete
Fotograaf: WildFlower Photography
Musiek en vermaak: Nitelife Productions
Trourok: Bridal Alchemy
Hare: Hair and Makeup by Lana
Grimering: Meruscha Matthysen Make Up Artist
Vervoer: Mustang (vriende)
Bruidegom se uitrusting: Woolworths
Strooimeisierokke: YDE

ERWS-BANNER-20-96x14

Artikel: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA